Oom Herrie se kerrie: Erg knyp weens Engels

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

By die Bloem Show is als komende van die bestuur mos vanjaar in Engels – die kennisgewingborde, die webwerf, die program…

Selfs die ou Bulsaal waar Jan Wilkens, Vrystaat, Wildeman van die Kalahari en Percy Hall so lekker met oorsese teenstanders die krytvloer gesmeer het, het nou ’n Engelse naam. Plaas hulle het dit dan maar Percy Hall gemaak om by al die ander “halls” te pas en wat voorheen sale was.

Net die mense by die skou is Afrikaans, maar dis seker maar oor die geld in hul sakke nou net Engels is dat die borde en als Engels is. Want die geld by ’n skou is immers belangriker as die mense.

Oom Herrie se gemeente het al jare ’n skoustalletjie, en het al twee dae voor die skou geopen het, begin om te ete en te drinke aan die uitstallers te verkwansel. Na drie skouskofte het oom Herrie nog nie nodig gehad om die ablusiegeriewe op te soek nie, maar dit gaan kom, en oom Herrie het ’n oog uitgewerp vir waar daar nou binne knypafstand sodanige geriewe te vinde is.

Dis toe dat oom Herrie die bord sien: Garment Room. Dit, sê mev. Herrie, is deftige Engels vir die plek waar mens gaan piepie. Of miskien moet deftig met deftig beantwoord word – waar die lelie geskud word. Die woordeboek sê die Afrikaans vir “Garment Room” is die “kleedkamer.” Seker maar oor oom Herrie en die ander mense in die stalletjie voorskote dra – as die natuur roep is dit nogal ’n hele (ont)kleedrepitisie.

Wat sou die Engels wees vir “ontkleekamer”? Ungarment Room?

Net voor toemaaktyd van die vierde dag daag daar toe iemand by die stalletjie op en bestel toe sy ete en drinke in Engels. Gelukkig is daar toe darem iemand in die stalletjie wat genoeg van Engels uitmaak – die dominee – om te help. Herrie het ʼn spesmaas Engels is dalk naas Afrikaans, Grieks en Hebreeus die dominee se vierde taal – oom Herrie het die dominee al die Grieks en Hebreeus in die kerk hoor uitlê, maar nog nooit Engels nie.

Wat maar net weer bewys: Oom Herrie kom in die kerk.

Toe die man geholpe daar weg is, sê die dominee: “Nou ja, daar het ons ook nou ons eerste Engelse bestelling gehad.”

Nee kyk, oom Herrie het groot respekte gekry vir ʼn hele paar lidmate. Daar is van die lidmate wat hulle vir die ganse skou op al die skofte geplaas het. En mens kan hulle uitken, want hulle is raakvatters – weet waar alles is, hoe alles werk, wat alles kos… En maak nie saak hoe laat nie, hulle is nog vars en dis die ene storie en grappe.

Na net een skof sê mev. Herrie vir oom Herrie hy loop soos ’n ou man. Die tweede aand voel dit vir oom Herrie sy kakebeen en sy bekkenbeen het vergroei geraak, en dat die hele rugstring makeer. Miskien, reken oom Herrie, met die ontstrengeling kan die bekkenbeen kom waar hy taalkundig hoort, by die bek, en die kakebeen ook waar hy taalkundig hoort – by die “garment exit.” Ja, die ouens wat die skoonste taal uitgedink het, het ook nie aldag mooi gedink nie, of hul biologie mooi onderstebo beet gehad.

Die derde dag is oom Herrie goed van die Deep Heat gesmeer vir ’n skof stalletjie toe, en onderweg kom ’n ou skoolklasmaat met haar seun en kleinkind ’n bultjie van voor af uitgeskuifel.

Ha, dink oom Herrie, gelukkig is die uwe darem nog in ’n beter toestand as dit.

Maar teen die aand as oom Herrie iewers heen moet loop, is hy al amper daar voor sy voete eers begin aanstaltes maak. Terug na die parkeerplek verby die groot bord “Exhibitors Parking” (wat verkeerd gespel is), moet oom Herrie ook die bultjie uit. Oom Herrie is die Drakensberge verskeie kere al met minder moeite uit – ook al met ʼn opgeswelde enkel wat oom Herrie die vorige aand onderweg in Bethlehem geswik het.

Komende week is dit nog drie skofte oor…

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Jare gelede by die Pretoriase skou het daar in een van die groot sale teen die muur en bokant die ‘Mans’ en ‘Dames’ op ‘n plakkaat gestaan: “Please keep the hall clean” wat nogal sin gemaak het MITS jy tweetalig was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.