Diep onder die oppervlak van Mars is die planeet se Opperraad byeen. Die Opperraad vergader net as daar ’n noodgeval is.
“Soos ons almal weet, is ons planeet pas deur die Aarde gebombardeer,” sê die president van die Opperraad met sy groen gesiggie die ene plooie. “Gelukkig net een voorwerp wat Mars getref en ontplof het, maar dit wys hulle meen hulle beskik nou oor die vermoë om ons te vernietig.”
Daar is ʼn geroesemoes onder die groen mannetjies van die Opperraad.
“Vir jare verken hulle ons planeet en ons laat hulle in vrede. Nou kom bombardeer hulle ons.”
Die president roep ’n stewige mannetjie met ’n groot donkerbril nader. Dis Ponterius, die hoof van intelligensie.
“Volgens die radioseine wat ons opgevang het,” sê hy aan die vergadering, “noem die Aardbewoners die bom ʼn Skipperelli of so iets. Dit het ʼn yslike krater van 15 meter in deursnee gemaak.”
Die groen mannetjies sis om hul ontevredenheid te kenne te gee.
“Nou wat gaan ons doen?” vra die president.
“Vernietig hulle!” roep die lede van die Opperraad soos een man uit, en slaan met hul vuisies op die skryfoppervlak voor hulle.
Ponterius beduie ’n deeglike ontleding van opsies toon die beste manier is om die Aarde regstreeks met die superlaser by te dam. Op die groot skerm gee hy ’n grafiese beeld van hoe dit sal verloop.
“Hulle sal nie weet wat hulle getref het nie,” sluit Ponterius af.
“Maar gaan dit nie die Aarde onbewoonbaar maak nie?” wil een van die lede weet.
“Onthou, ons eie planeet raak weens omstandighede buite ons beheer al minder en minder bewoonbaar, en ons het altyd gehoop dat ons ons eendag vreedsaam op die Aarde kan gaan hervestig. As die Aarde egter nou onbewoonbaar gemaak word, skiet ons onsself in die voet.”
Ponterius verduidelik dat die superlaser so gerig sal word dat dit sover moontlik net mense sal uitwis.
“Eintlik sal die planeet daarna baie vinnig kan herstel van die omgewingskade wat die mensdom reeds aangerig het.”
“Ek sien op die groot skerm die suidelike punt van daardie groot kontinent word met die laser oorgeslaan. Hoekom?” vra nog ’n lid van die Opperraad.
“Ons intelligensie dui daarop dat dit onnodig is. Daar is iemand in bevel wat alles baie vinniger vernietig as wat ons met die Superlaser kan regkry. Hulle noem daardie man Jacob.”
Oulik geskryf..LOL..ek wag so ewe dat Bruce Willis of een van daai manne opdaag om die oomblik Te red..skerp Herman!
Dalk het hulle tog ‘n slim president wat betyds begin wonder vanwaar die skielike belangstelling van aardbewoners in Mars, anders is hulle maar ‘n dom spul. Hul bespieders moes lankal opgemerk het, die’ planeet is besoedel, deurgetrap en opgedons.
Wel gestel! Ek wonder of daardie slim Samsung wasmasjiene wat kwansuis herroep gaan word nie deel is van hierdie Opperraad op Mars se plan nie om die aarde te infiltreer nie?