Oom Herrie se kerrie: Gaan skenk bloed

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Die Springbokke se rits flou, en flouer, vertonings die afgelope tyd laat oom Herrie dink aan iets soortgelyks ’n paar dekades gelede. Die span het ook ’n lot nederlae teen die bleekbeentjies op die lyf geloop – sommer teen van die graafskappe ook.

Dit was maar ’n gedempte spanpraatjie wat die afrigter, oom Bierman Coetzee, afsluit met: “So, manne, kom ons doen iets positiefs en gaan skenk almal bloed.”

Waarop die moedelose kaptein, Danie Swiegers, reageer: “Raait, coach, maar teen wie moet ons gaan verloor?”

Deesdae, as die pynpolisie gewaar iemand het selfs net die geringste snytjie opgedoen, dan word hy vir ’n bloedbesering van die veld gehaal en opgefieks voor hy verder kan speel. Destyds het die voorspelers se truie naderhand te naar gelyk as ’n makker of opponent se neus aan die bloei geslaan of per ongeluk gestamp is.

Nou sê die Bloeddiens daar is in die aanloop tot die Kersvakansie ’n tekort aan sekere soorte bloed, en mense moet asseblief kom skenk.

Ja, oom Herrie was altyd vol stories hieroor, want sien, oom Herrie het bewyse dat hy twee bloedgroepe het. Volgens die ou weermag-“dogtag” is oom Herrie O+. Al die ander toetse sê dis A+. Die Weermag het die bloed uit die regterarm getrek.

Maar maak nie saak van waffer kant af sake betrag word nie, oom Herrie mag nooit geskenk het nie weens maltakoors.

Maar … minder as twee jaar gelede is oom Herrie met ’n skaars soort kanker gediagnoseer, en kry gereeld bloedoortappings. Oom Herrie leef op die goedgunstige gawe van vreemdelinge wat bereid is om te gaan skenk.

Die groot dam lê nou vir baie voor, maar elke dag by die see is ook nie te plesierig nie. Dus, die dag wat die Suidoos tier en die bloublasies die strand ’n mynveld maak, gaan soek gerus die naaste tak van die bloeddiens op, en maak ’n pint.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.