Oom Herrie se kerrie: Gekke en dwase verf…

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Groot Herrie was vir ’n paar dae tuis. Hy het ’n hartlike ontvangs van die Herries gekry, maar niemand was so uit sy vel soos Wolf nie. Maar soos alle goeie dinge kom so ’n kuier ook tot ’n einde en Wolf lê met ’n afdraende gesig voor die voordeur.

Groot Herrie had ’n besige tydjie terwyl hy tuis was. Allerlei handewerkies wat gedoen moes word. Ja, as daar aan die huis gewerk word, is daar ’n eindelose klomp dinge, en so het oom Herrie homself ook bo-op ’n leer bevind om ’n stuk plafon te verf.

Maar oom Herrie was klaarblyklik nie al een in die land met ’n nat verfkwas in die hand nie. Daar is woes aan standbeelde geverf (en ander dinge gedoen). Gemoedere laai mos sommer gou op oor sulke dinge.

Wyle pa Jan het gereeld die ou spreekwoord aangehaal van gekke en dwase wat hul name op mure en glase skryf. Nou ja, die standbeeldbemorsers kan seker nie almal skryf nie.

Die aanvanklike kleur, groen, wat die kulturele terroriste gebruik het, was vir oom Herrie ook interessant. Groenes is juis een van die haatspraakwoorde wat Sunette Bridges in ’n skikking met die Menseregtekommissie van haar Facebook-blad moet verwyder.

Nou sien oom Herrie word sommer enige kleur van die reënboog ingespan.

Maar laat oom Herrie hom nou nie op die terrein van die politiek begeef nie.

Kyk, oom Herrie is dankbaar en trots dat Groot Herrie nie net twee landbougrade agter sy naam het nie, maar dat sy twee hande ook vir min dinge verkeerd staan. Van dinge op die rekenaar uitpluis, tot ’n groot spieël opsit, tot na sy bakkie se enjin kyk.

Dus (maar nie net daaroor nie) was dit maar met ’n swaar gemoed om van hom afskeid te neem, maar ook ’n groot dankbaarheid dat hy weer veilig doer ver aangekom het. Terwyl hy hier was, het sy Kaapse vriendin ’n graderingstoets vir sang afgelê, en die meisie se ma het Groot Herrie regstreeks (per telefoon) ingeskakel. Maar so mooi, oom Herrie was skoon bewoë. En ja, sy het geslaag, maar soos sy darem gesing het moes sy met vlieënde vaandels slaag.

En so met die hartseer van afskeid is daar die trots – ’n jong geslag wat die land sal vorentoe neem te midde van kultuurterroriste en poefgooiers.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.