Oom Herrie se kerrie: Groot Herrie word toebetrou

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

In die boek, Fiela se kind, vertel Fiela gereeld die Here het die wit vondelingseuntjie aan haar toebetrou. Die kind is as baba voor haar huisie se deur gelaat.

Nou trek ons oudste, Groot Herrie, of te wel Nic, Boland toe, waar hy ʼn pos op ʼn vrugteplaas gekry het. Met die mooiste huis in die Kaap-Hollandse styl.

In die proses skuif hy omtrent ʼn duisend kilometer in plaas van die “net” sowat 250 kilometer van ʼn plaas anderkant Bothaville van ons af weg, maar tot baie na-aan sy oogappel van die Kaap, Leandri, wat sy hart gesteel het.

Aanstaande skoonsuster, Charmaine, het ook reeds laat weet sy sal mooi na Groot Herrie omsien. Hy word nou as’t ware aan Charmain, Koos en Leandri toebetrou.

Neem nou maar, met die skryf hiervan het Groot Herrie nog nie eens na anderkant van die wingerdgordyn verhuis nie, of Leandri en haar ma het al gaan opmeet vir die gordyne.

Toe hy vier jaar gelede die eerste keer uit die huis is, Bothaville toe, het die Here hom aan ʼn wonderlike egpaar, oom Frans en tannie Riekie toebetrou. Hoewel hy formeel net die woonstel op hul plaaswerf gehuur het, was daar min etes wat hulle hom nie kom haal het om saam te kom eet nie. Omtrent soos ʼn kind in die huis.

Selfs toe hy na ʼn paar jaar “uitwyk” en ʼn groot opstal ʼn ent daarvandaan huur, het sy bande met oom Frans en tannie Riekie heg gebly. Oom Frans het intussen ʼn moeilikheid met sy hart gekry en hulle het ingetrek dorp toe. En ook daar het groot Herrie nog baie uit oom Frans se staaltjies en wysheid kom put en uit tannie Riekie se kospotte en ook wysheid.

Intussen laat ʼn ou skoolmaat van oom Herrie uit Stellenbosch se kinderdae ook van hom hoor. Hy en vroulief was behoorlik deur die wêreld. En dit blyk dat hulle nou ook in die Paarl bly. Groot Herrie is klaar genooi om te kom kuier en iets te eet, “want garage-pies en tweeminuut-noedels is mos nie kos nie.”

Wat die rugby betref, is Groot Herrie van plan om ʼn Cheetah-ondersteuner te bly. Maar oom Herrie het ʼn idee, dat as Groot Herrie ʼn ooreenkoms met oom Koos sluit dat hulle by hom, Groot Herrie, braai as die Cheetahs gewen het en by oom Koos as die Stormers/WP gewen het, gaan groot Herrie ruim wen met die transaksie. Oom Herrie het vreeslik simpatie met die Bolandse Rugby-unie wat seker nog erger as die Cheetahs jaarliks van sy talent gestroop word.

Maar groot Herrie weet hy gaan hard werk en die vrugtebedryf gou onder die knie kry. Gelukkig weet oom Herrie dat hy hardwerkend, verantwoordelik en pligsgetrou is.

En dat hy en Leandri ook reeds gaan kyk het waar hul kerk in die Paarl is.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Akram ·

Nou ja, so gebeur dinge. Baie sterkte en geluk. Hoop sy hou darm van honde….

Johan Piek ·

Hierdie gereelde skryfstuk hoort op Facebook . Stel nie belang om elke dag te lees wat Herrie se familie doen nie.
Vriendelike groete
Johan

Sune van Heerden ·

Dagsê Johan

Maroela wil graag ‘n verskeidenheid van inligting aan ons lesers bied – van harde nuus tot al die lekkerlees-goeienuusstories.
“Oom Herrie se kerrie” is baie gewild onder ons lesers, en ons vind dit is dus ‘n goeie byvoeging tot ons inhoud.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Ella ·

Johan, jy HOEF nie Herrie se Kerrie te lees nie. Maroela Media, dankie vir die wonderlike voorreg dat ons die geleentheid gebied word om hierdie wonderlike vertellings te kan lees. Fyn humor, briljante skryfstyl, en wonderlike insig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.