Oom Herrie se kerrie: Hael soos gholfballe

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Soos dit dikwels gaan as dit na ʼn droë tydperk begin reën, het die Herries vanjaar ook ʼn woeste storm of wat beleef. Met nie een van die storms het dit baie gereën nie, maar die eerste keer het dit gehael en die tweede keer het ʼn wind die hoofstam van ʼn doringboom op die sypaadjie afgewaai.

Hoewel daar met die haelslag groterige haelkorrels geval het, het oom Herrie niks gesien wat so groot soos hoendereiers was, of selfs so groot soos gholfballe nie. En nou begin oom Herrie splinternuwe gholfballe in die erf optel. Iewers in die buurt oefen iemand sy dryfhoue met “lewendige ammunisie”, maar hy het gelukkig nog nie ʼn ruit raakgeslaan nie.

Anders as toe ons kroos kleintyd op pa se ghlofstokke en ʼn paar balle afgekom en wou leer balle slaan het. Een Sondagmiddag het ons twee, terwyl die ou mense bietjie gaan skuins lê het, op die voorste grasperk geoefen. Daarvoor was daar minstens een hol oefenballetjie. Later die middag was daar ʼn koeëlronde gaatjie in ʼn venster langs die voordeur, maar ons twee had geen benul van waar die gaatjie vandaan gekom het nie.

Oom Herrie speel al lankal nie meer gholf nie. Ek het wel by geleentheid as redakteur aan ʼn gholfdag ten bate van liefdadigheid “deelgeneem.” Nie goed gewerk nie, want so deur die loop van die vorige nag het oom Herrie sy eerste standaard-halfmarathon “gedoen”.

Ook die laaste, het Mev. Herrie gelas oor die oom daarna so flenters was. Nietemin, toe moes oom Herrie ontdek sy stokke is antiek. Die “houte” is nog van hout, terwyl die ander manne titanium-stokke inspan wat omtrent twee keer so ver slaan. As oom Herrie vat wat die titaniumraampie van sy bril kos, wat eintlik net twee ragfyn stokkies is, wil hy nie graag weet wat twee titanium-gholfstokke kos nie.

Toe Wolf kleintyd as plaasbrak by oupa en ouma in die stad kom bly het, was daar ʼn gat in die muur waar buurman se brakke ʼn betonpaneel uitgespring het. By geleentheid stap oom Herrie winkel toe en Wolf volg van agter die duiwelsvurkheining en glip toe sommer deur die gat na die bure se erf. Fout. Die twee rifrugge takel die kleine Wolf en oom Herrie moet terughardloop en die spulletjie beredder. Maar van toe af is Wolf en die bure se honde erg suur vir mekaar. Soos ʼn gat toegemaak word, word nog ʼn betonpaneel gebreek en uitgestamp. By geleentheid het Wolf ʼn liederlike sny in die nek gekry en in die dierehospitaal beland.

Nou die dag gaan stap oom Herrie weer met Wolf en Nala. Wolf se ketting word sommer in die huis al aangesit om te keer dat hy by die jongste gat in die heining gaan skoor soek. Nala se ketting, meen oom Herrie, kan by die voorste hek aangesit word.

Maar Nala gaan soek skoor en die volgende oomblik peul twee rifrugge en ʼn Deense hond deur die gat. Oom Herrie is genoodsaak om Wolf te laat los om te gaan help om Nala te probeer red, al is Wolf ook kleiner as die drie invallers. Al “wapen” wat oom Herrie byderhand het, is ʼn blikkie spookp*s om die hek se slot mee te olie. Dié keer is die rolle omgeruil. Wolf dam die naaste rifrug by en dié slaan op sy rug neer en tjank blou moord. Wolf gaan gryp die volgende een en die eerste snol deur die gat. Die tweede maak vir die gat, maar steek kort vas en hol ʼn sirkel om oom Herrie by te loop. Die spookp*s praat en dié brak is ook deur die gat. Toe wil die Deense hond nog wys van watter stoffasie hy gemaak is, maar Wolf verwilder hom ook deur die gat.

Nooit gedink Wolf sal as veghond ontpop nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae