Oom Herrie se Kerrie: Hemelruim werk toe heel anders

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Bykans 500 jaar nadat Galileo Galilei en die Roomse kerkvaders haaks was oor die samestelling van die hemelruim, en of die aarde die middelpunt van die heelal sou wees waarom alles sou wentel, bring nuwe “navorsing” aan die lig dat albei partye dit heeltemal verkeerd gehad het.

In werklikheid wentel die bekende hemelruim om ’n reuse-gravitasiekolk (swart gat), bekend as die Hlaudi Motsoeneng-gravitasiekolk, lees oom Herrie. Hierdie kolk bepaal presies wat en waar elke hemelliggaam behoort te beweeg, teen waffer snelheid en in watter rigting. Die hemelliggaam wat dit sou durf waag om die geringste dwars te trek, word óf ingesuig en deur die gravitasiekolk verslind, óf na die buitenste duisternis uitgewerp, waar dit, volgens Motsoeneng, baie koud is.

Geen ander krag werk hierop in nie, en geen wetmatigheid soos deur Albert Einstein en ander bepaal is, geld in hierdie heelal nie.

In hierdie heelal is daar veral een ruimteliggaam wat egter toegelaat word om te maak en breek soos dit wil. Dit is ’n ster wat byna al sy brandstof opgebruik het, en nou bruusk deur die hemelruim swerf en ander hemelliggame behoorlik wegskouer, maar terselfdertyd ’n groot hoeveelheid ruimterommel op sleeptou geneem het sodat dit byna die karakter van ’n komeet aangeneem het. Die hemelliggaam, ZC-Zuma Eleventy, ontwrig ’n groot deel van die hemelruim waardeur dit beweeg, maar die gravitasiekolk het dit in ’n unieke, onaantasbare posisie geplaas. Een van die mees prominente stukke ruimterommel wat ZC-Zuma Eleventy volg, heet die Zero Faith Anomalie.

Die navorsing toon egter ook dat die gewone natuurwetmatighede besig is om geleidelik ’n greep op hierdie uiterste Hlaudi-anomalie te verkry, en dat die gravitasiekolk met al sy gewillige aanhang gaan inplof.

Hierna gaan die gewone natuurwetenskaplike wetmatighede weer geld.

Ruimtehelms af vir die personeel wat vas staan vir reg en geregtigheid. Dankie vir instansies soos Solidariteit wat stem dik maak om reg en geregtigheid te laat geskied.

Laat die groot inploffing begin …

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Zumie ·

Sooo dankbaar vir die verduideliking … nou weet ek ook….

Boertjie ·

Sies oom Herrie! Maak jy my amper stik soos ek lag! Dankie vir die goeie verduideliking, nou verstaan ek ook die spulletjie beter. Lekker manier om my Vrydag met ‘n glimlag te begin.

Anthonie Van Bosch ·

Die vraag is, as die kiesers “slimmer” word, gaan korrupsie groter of kleiner raak? Na wat se inploffing kyk ons?

John ·

Oom Herrie jy moet asseblief tog net nie by NASA of die SABC vir ‘n pos aansoek doen nie. Jy land dalk net op Mars saam met die eerste besetters… met ‘n gratis enkelkaartjie as geskenk vir jou diepe insig in die werking van die’ misterieuse donker slurpe…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.