Oom Herrie se kerrie: Hoes of betaal, is die wet wat faal

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Oom Herrie sien roofkykers skuld die Esybiesie ’n allemintige R32,5 miljard.

Of liewer, voor oom Zumpie se Nenegate was dit nog baie geld, want sedertdien is die rand nog swakker as wat dit was en is R32,5 miljard seker nie meer iets om oor huis toe te e-pos nie.

Oom Herrie is nie verbaas oor die uitstaande klomp geld nie. Wel, reken oom Herrie, ’n deel daarvan bestaan net op die Esybiesie se boeke, want oom Herrie het al te veel gesien hoe mense wat al lank oorlede is, en oor wie se afsterwe die Esybiesie behoorlik en by herhaling kennis gekry het, deur die “openbare uitsaaier” gedreig word.

Maar regtig. Wie betaal nou graag lisensiegeld vir iets wat hy skaars gebruik? Oom Herrie self kyk eintlik nog net die nuus, en omdat oom Herrie self met nuus werk en dus gewoonlik ’n idee het van belangrike nuus, is oom Herrie dikwels nog suur oor die Esybiesie se nuusseleksies.

Soms is daar nog hier en daar ’n interessante program (maar byna nooit in die skoonste taal nie), en ook ná oom Herrie se slaaptyd. Die afgelope ruk het oom Herrie hier ná middernag wakker geword, en iets gaan eet. So met die etery is die TV aangesit en so op ’n hele paar goeie programme afgekom. Oom Herrie sal dus aan die Esybiesie se grootkoppe voorstel dat die programme wat die moeite werd is vroegaand gespeel word en hierdie robbies wat jaartse en jaartse op die gepubliseerde programroosters opneem, ná middernag verban word.

En ja, die Herries kan nie betaal-TV bekostig nie.

Nou is dit veel interessanter om Nala en Wolf dop te hou as TV te kyk. Wanneer dit warm is, lê die twee vir dood op die koelste plekke in die huis. Maar as die koeligheid kom, speel die twee ’n hond uit die huis uit. Kort-kort kom Wolf soos arme Wolraad Woltemade se arme perd die vertrek in, met Nala wat aan sy stert hang of hom aan die agterpoot beet het. En hy geniet dit!

Nie dat Wolf altyd maklik is nie. Nou die dag peul twee groot rifrugge en ’n nog groter Deense hond deur ’n gat in die heining en skraap vir Nala. Wolf skraap die indringers, en oom Herrie haas hom agterna om te keer dat Wolf verskeur word.

Maar watwou, Wolf keer die naaste rifrug om, wat die naarste tjanke aanhef. Maar toe is Wolf al agter die volgende aan. Oom Herrie was op pad om ’n slot te olie wat van die reën stram geraak het, en al wapen was ’n kannetjie spookp*s. Maar dit was eintlik nie nodig nie, die drie indringers is tjankend en stert tussen die bene en taamlik goed geolie terug deur die gat.

Nou weet oom Herrie Wolf is ’n Arktiese veghond. Kruis ’n poolhond (huskie) met ’n Arktiese wolf om ’n wit poolhond te kry, en siedaar, ’n Arktiese veghond.

Nala se bloedlyne loop eenvoudig te wyd, maar die Herries verneem daar is Australiese beeshond in. Dié het weer dingo in. Maar daar is ook windhond (die knop agter die skedel volgens die veearts) en ’n groot verskeidenheid ander soorte in haar are. Lieflike, lieftallige hond. Maar jaloers oor aandag, en sy pik gereeld na Wolf wanneer daar sprake is van aandag kry. Wolf pluk net sy kop goedig weg. Dus is sy nou tot Australiese pikhond verklaar. Maar die pikkery word eintlik ten toon gestel as ’n vlieg dit naby haar waag. Sy is op die plek die hoenders in, en pik vreeslik agter die vlieg aan. Met ’n steroïedvlieg (brommer) is dit nog erger. Sy sal hom gaan jaag en teen ’n venster vaskeer.

Dis net tande wat klap soos sy die laspos probeer beetkry.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke, Troeteldiere

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.