Wat maak ‘n brak (of twee) as die Bloemfonteinse huismense nie tydens die warm midsomerdroogte uitwyk na die groot dam toe nie?
Die Herries se honde is ‘n witterige poolhond (met duidelik ‘n klompie Arktiese wolf in), genaamd Wolf, en ‘n langhaarhond van onsekere herkoms, Nala.
Hulle, maar veral Wolf, kry warm. Baie warm.
Die Herries het vir hulle buite ‘n “skulp” met water gesit, waarin hulle periodiek afkoel. Maar klaarblyklik is ‘n mensgemaakte “see” nou nie juis wat ‘n warm hond in gedagte het nie.
So ‘n ruk terug het iemand bietjie teëlwerk by die Herries gedoen, en ‘n klompie sand en sement het oorgebly. Daar is mos maar altoos ‘n messelwerkie in en om die huis waarvoor ‘n mens nou nie juis ‘n hele vrag sand voor wil laat kom nie. Die sement word in die motorhuis gebêre, en tot ‘n verdere plan gemaak kon word, is die sand in die kruiwa gelos.
Saterdag moes die kruiwa egter weer as kruiwa ingespan word, en oom Herrie tip die sand in ‘n plastiese badjie, langs die waterskulp. Fout.
‘n Ruk later meld mevrou Herrie die honde het die sand uit die badjie uitgekrap, en oom Herrie gaan kyk. Omtrent soos ‘n strand aan die een kant van die badjie.
Toe Wolf so 14 maande gelede by die Herries kom woon het, was hy amper spierwit. Maar toe begin sy winterhare uitval. By die klosse. Drie inkopiesakke vol wat uitgeborsel is, afgesien van wat deur die stofsuier opgesuig is, of buite verloor is. Wolf het toe die wit winterhare uit is, taamlik bruinerig geword. By die Herries slaap honde en wolwe binne, en dit lyk of Wolf nie juis die afgelope winter winterhare gegroei het nie. Hy is steeds bruinerig, en het nog bitter min hare verloor.
En dis nie of Wolf warm slaap nie. Hy gaan soek steeds die koudste plek en dis nog taamlik winter, dan moet die Herries ‘n suidekant-buitedeur snags laat ooplê, maar omdat dit Suid-Afrika is, darem met die traliedeur toegesluit.
Nala gaan slaap saans ook op ‘n koelerige plek – die koelste teëls en in ‘n trek, maar so ‘n ruk voor sonop kom skop sy nes tussen oupa en ouma.
As Wolf, gewoonlik so ‘n ruk voor vyf kom wys hy het die nag oorleef, is dit opstaantyd want dan wil hy en Nala net speel.
So erg soos die twee oor mekaar is, verskil hulle ook. As Nala vir iemand in die straat blaf en Wolf allerhande wolwegeluide maak, gaan staan daar nie sigbaar ‘n haar op Wolf regop nie. Nala is ‘n ander storie, en sy lyk te komieklik. Die snaaksste is die twee “vlerke” wat sy in die nek kry van lang haar wat regop gaan staan. Op die stert is ook ‘n bondel wat regop gaan staan.
Nala is vreeslik lief om ‘n tennisbal wat mens vir haar gooi, volspoed te gaan haal, en weer volspoed terug te bring. Wolf kyk die bal skaars agterna, maar is weer ‘n yster op die eertydse trampolien. Nala hou weg as dit lyk of ‘n wiel gaan draai, maar Wolf spring in wanneer hy die geringste opening sien. Sy vaste ry-afspraak is Sondagoggende wanneer oom Herrie ‘n ander kerk se nuusbriewe gaan afgee wat die Herries uitlê en druk. Na ‘n ruk kom sit hy op die passasiersitplek, lyf agteroor teen die rugleuning, en ry soos ‘n lord met ‘n chauffeur.
Wolf vreet nie soos ‘n wolf nie, en het na sy maatjie Sheba se dood amper opgehou vreet. Toe die Herrie s se ou hond, Pumba, boonop kort hierna ook dood is, was hy weke lank op ‘n byna volkome eetstaking. Dis toe dat die Herries vir Nala as babahondjie by New Beginnings gaan haal het. Of Nala weet sy is ‘n weggooihond wat weer ‘n kans gekry het, weet ‘n mens nou nie, maar sy kan iets vreesliks vreet. Hou vir haar ‘n korsie, en die oë rek, dan gryp sy, en dis kompleet soos ‘n papiersnippermasjien soos daai korsie kouend in die keelgat af verdwyn. Wolf sal die korsie so versigtig neem, dit tussen sy pote sit en besluit of hy dit wil vreet. Maar moenie maak of ‘n mens daai korsie wil vat nie! Dan is dit ‘n gegrom en gehap vir die naarheid. En dan vreet hy gewoonlik dit waarvoor hy so langtand was – en sy slagtande is juis uitsonderlik lank.
Dankie vir die oulike skrywe – ek sit hier met ‘n grooot glimlag op my gesig. Elke dier wat ons nog ooit besit het, had ‘n eie temperament en karakter. Ons is lief om altyd die lelikste diere of die wat weggegooi is te vat – ek glo hulle is ook die heel lojaalste, want hier by ons is hulle uiteindelik in die aardse hemel en vergeet hul hul swaarkry van vorige huise.
Altyd lekker om te hoor ander mense bederf ook hulle honde,
en toon bietjie liefde aan hulle!