Oom Herrie se kerrie: Hou links!

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oom Herrie lees van die Amerikaanse vrou wat haar toets vir ʼn rybewys gedop het deur in die toetsterrein se gebou vas te jaag. Sy het glo die rem en petrolpedaal verwar. Slaait mistykie.

Jare gelede het ʼn Stellenbosse huisvrou ook geleer bestuur en in die huis se oprit geoefen. By geleentheid nader sy die dubbele motorhuisdeur en trap ook per ongeluk die petrol toe sy bedoel het om die rem te trap. Paniek slaan toe en sy hou voet in die hoek, maar in plaas van om met die garagedeure in die garage te val, swenk sy langs die motorhuis in in die strokie tussen die motorhuis en die buurerf af.

ʼn Klomp vrugtebome bly in die slag, voor sy deur ʼn twee meter ringmuur jaag, toe deur ʼn stukkie agterplaas, weer deur ʼn ringmuur, toe deur ʼn doringdraad en in ʼn stofwolk op ʼn plaas agter die huis tot stilstand kom. Daardie plaas is intussen al lankal ook dorp en sy kon net so goed in ʼn swembad of iemand se sitkamer beland het.

Rybewyse was nie altyd verpligtend nie en die instelling daarvan het volgens wyle pa Jan met seer tandekry gepaard gegaan. ʼn Boer stuur sy voorman met die bakkie dorp toe om ʼn rybewys te loop haal. Destyds is daar op elke dorp iemand aangewys om as lisensiebeampte die liksense uit te skryf.

Dié man was in sy motorhuis doenig en hy sê die voorman aan om om die blok te ry terwyl hy met sy werkies aangaan. Na ʼn hele ruk kom die voorman met die stuurwiel in die hand aangestap. Die bakkie aan die ander kant van die blok omgekeer. ”Ai man, ek het die liksens nou klaar uitgeskryf, jy moet hom maar vat.”

Of daai liksense minder werd was as sommige liksense vandag, is moeilik te bepaal. Oom Herrie bedoel die liksense wat sommiges kry danksy die bottel vuurwater onder ʼn koerant op die passasiersitplek, of die rubberliksensie soos onse speaker en voormalige adjunk-president in Mamparralanga gekry het. Om nie van die spesiale kategorie, minibustaxi-liksense, te praat nie. Pirate taxi-liksens klink meer toepaslik. Daai wat mens kry as jy die stuurwiel met ʼn tang (vice grip) vervang en in ʼn spasie van minder as ʼn meter tussen twee motors op volspoed ingedruk kry.

Wyle PH Nortjé het weer geskryf van die tyd toe dit verpligtend gemaak is om aan die linkerkant van die pad te ry. In die kloof was daar egter twee ou ooms wat niks van dié twak wou weet nie – ʼn mens ry mos aan die mees rybare kant van die pad. Tot hulle eendag bo-op ʼn knop by mekaar verbyjaag, elkeen aan die regterkant van die pad!

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.