Oom Herrie se kerrie: In die wieke van die wolke

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Groot Herrie het die afgelope Sondag die eerste keer (in ʼn vliegtuig) gevlieg. Die opgewondenheid was groot, maar oom Herrie meen die feit dat hy by sy oulike nooientjie in die Kaap gaan kuier het, was nog meer rede vir groot opgewondenheid.

Die ganse gesin Herrie het afgesit lughawe toe om die afsienwerk te gaan doen, maar ongelukkig is Fishershaven International nie nou met ʼn plek toegerus van waar besoekers die vliegtuie kan sien kom en gaan nie. Dis darem sleg.

En ʼn mens moet twee ure voor vertrek daar wees. Nie dat baie passasiers hulle hieraan steur nie en gelukkig ook nie, want daar was naderhand nie meer sitplek vir al die passasiers en hul mense wat hulle kom afsien het nie.

Die belangrikste is dat Groot Herrie dit vreeslik geniet het. Dit klink ook nie of hy van die naarpilletjies wat oom Herrie as voorsorg vir die chemo kry (maar nie nodig kry nie) nodig gehad het nie. Ventersitplek gehad ook.

Oom Herrie se “vlieggeskiedenis” het vroeg begin. Kleintyd saam met ouma Meyer, wat by ons in Stellenbosch kom kuier het, teruggevlieg Bloemfontein toe. Met ʼn Viscount.  Maar voor dit het ouma eers in die Kaap aangeland en daar het die jonge Herrie sy eerste ondervinding met die gereg gehad.

Die kleine Herrie is voor die rit lughawe toe gebad en is in pajamas en kamerjas saam. Dinge was toe nog oop en die wagtendes het op die grasperk voor die gebou hul geliefdes ingewag. En daar sien die kleine Herrie sy ouma en sit op loop – reguit in die arms van ʼn geregsdienaar in wat darem ʼn soort skeiding tussen passasiers en hul geliefdes gevorm het. Ouma het die petalje sien ontvou en was dadelik by: “Gee my kleinkind hier!” het sy geraas.

Daarna het baie vlugte, meestal vir werk, gevolg. In omtrent enigiets van Jumbo’s tot selfs ʼn helikopter. Soms erg sinkplaat, soms lekker seepglad. In die VSA is ʼn spesiale kanaal geskep sodat passasiers na die lugbeheer en instruksies kan luister. Te lekker.

Minder lekker om ʼn lugfoto van ʼn wrak te sien met dieselfde nommer op die vlerk as die lendelam vliegtuig waarmee ʼn man ʼn paar weke tevore in die Grand Canyon afgevlieg het.

ʼn Baie harde gaan-sitslag in Kimberley had die passasiers tot doodstilte geskok, tot iemand uitroep: “Moenie warrie nie, hy het Dunlops op!” By George het twee beskonke passasiers te lekker bolle gerol. Met die ’88-vloede was die vliegtuig op Kimberley gestrand en moes ʼn klomp bagasie uitgelaai word sodat verder Kaap toe gevlieg kon word.

En ja, daar was die noodlanding met die Airbus in Durban met die ambulanse en brandweerlorries wat al loeiende en met flitsende ligte saam met die êrrie die aanloopbaan afgejaag het. Oom Herrie het juis langs die enjin gesit wat ʼn ruk tevore ongeskik so ʼn bol swart rook gep*&f het. En hoe voel ʼn mens as jy die volgende dag in daai einste vliegtuig moet klim om terug te vlieg Bobbejaansberg toe?

Maar wag, laat oom Herrie ophou…netnou wil die vliegmense vir oom Herrie prosedeer vir passasiers afskrik en wil Groot Herrie volgende Sondag nie terug vlieg nie – en sy meisie kom saam.

Onthou, die onveiligste deel van ʼn vliegrit is die rit van die lughawe huis toe.

Behalwe natuurlik as jy praat van iets soos oom Herrie se vliegongeluk met die motorfiets – maar dis ʼn storie op sy eie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae