Oom Herrie se kerrie: Jan van Riebeeck en Jacob Zuma se ware geskiedenis

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oom Herrie se skoonpa, oupa Nic, het toe hy nog in die lewe was graag vertel hoe dit gekom het dat hy ’n regstreekse afstammeling van Jan van Riebeeck was.

Al wat oom Herrie onthou is dat van oupa Jan se nasate terug in Nederland beland het, en van daar weer in Suid-Afrika beland het. Mev. Herrie is dus ’n regstreekse afstammeling van Jan van Riebeeck, en so ook oom Herrie se spruite. Ons jongste, Jandré, is juis op Suid-Afrika se laaste Van Riebeeckdag gebore.

Kyk, daar is baie dinge wat Jan van Riebeeck nie in sy dagboek aangeteken het nie. Soos toe hy met sy drie skepies, die Reiger, die Tijger en die Titanic, ekskuus, Dromedaris en die Goede Hoop, op die strand in Tafelbaai afgestuur het, dat hy so oorgeleun het om vir die wagtende skare te wuif, dat toe hy “Ankers!” roep, en die skepe briek, hy in die water in loop val het.

Een van die eerste mense op die strand wat Van Riebeeck ontmoet het was Herrie die tolk, wat na ’n moontlike piece job kom verneem het.

Een van Jan se vernaamste opdragte was om uit te vind oor die ryk van Priester Jan, die legendariese heerser van ’n skatryk Christenryk waar tot die rysmiere goud uit die grond grou.

Hy vra toe vir Herrie na priester Jan: “Ja, ek onthou van priester Jan en sy stad daar anderkant Mier wat van goud geglinster het.”

“Nou wat het gebeur?”

Van-Riebeeck-se-geskiedenis

‘n Grafika wat tans op sosiale media versprei word en die draak steek met die president se weergawe van Jan van Riebeeck se geskiedenis. Foto: Verskaf.

“Nee, hulle het mos sag geraak toe voer hulle cheap labour van KwaZulu af in, en van toe af is dit net strikes en demands en violent protests, tot die sandduine die stad ingesluk het.”

“Nou, Herrie my ou maat, hoekom het die strandlopers nie grond en eintlik vee nie?”

“Dis die domino-effek,” verduidelik Herrie. “Toe hoofinduna Zuma die eerste se mense in KwaZulu-Natal intrek vat hulle die Koisan daar se grond en vee, en dié loop vat toe weer verder, tot ons hier teen die see vasgedruk is.”

Nou kan julle oom Herrie maar glo. Daai Jan van Riebeeck kry amper beroerte so kwaad is hy. Net daar verklaar hy oorlog teen hoofindoena Zuma die Eerste se mense. Maar omdat Eskom al weer af was, moes die e-pos met die skip gestuur word. Die oorlogverklaring het ongeveer soos volg gelui: “Zeer ongeachte heer Zuma. Wegens uw grondroof verklaarde ik, kommissaris Jan van Riebeeck, namens de VOC oorlog tegen uw.”

Die e-pos word gevou, en in ‘n mikstok gesit. Die eerste skip wat verbykom, sit Jan en Herrie ’n strandloper met die mikstok op. Oorkant Port Natal sit hulle die strandloper op ’n rubberdinghie, en op land vat Dick King se oupagrootjie die e-pos na Nkandla.

Die paaie was daai tyd maar oes, al het kolonialisme nog nie oral dinge kon opkoffie nie, en daarom het die strydende magte eers heelwat later by mekaar uitgekom.

Maar Van Riebeeck en sy saboteurs het tog groot skade aan Eskom aangerig. Net Koeberg is uitgespaar, sodat Van Riebeeck-hulle darem op kerse kon bespaar.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.