Oom Herrie se kerrie: Kankerbalkies hier verbied

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Kleintyd het die kleine Herrie aan pa en ma aangekondig hy is nou groot, en wil begin rook. Pa en ma was op die plek inskiklik, en neem die kleine Herrie na ’n winkel in Stellenbosch se middedorp. Waffer soort sigarette dit was, weet oom Herrie nou nie, want hy kon destyds nog nie lees nie.

Maar oom Herrie het ’n spesmaas sy ouers het die sterkste moontlike soort gevra.

Tuis word gehelp om die kankerbalkie brand te maak.

“Onthou, jy moet dit diep intrek,” het Pa Jan nog gemaan.

Oom Herrie kan nou nog onthou hoe sy ingewande gebrand het, hoe naar hy was en hoe erg hy gehoes het. Iets vreesliks. Die rooklus vir goed genees.

So vlak in die hoërskool vertel oom Herrie dit vir ’n klasmaat. Hy probeer dit ook met sy ouers, wat toe ook vir hom ’n pakkie gaan aanskaf. Tuis word hy ook aangesê om diep in te trek, wat hy doen, en toe as bonus blaas hy sirkeltjies. Al ’n ou roker, wat in sy voortvarendheid die feit weggee.

Vreeslike loesing op die lyf geloop ook.

Nou sien oom Herrie die president van die haas onbekende land, Turkmenistan, het rook algeheel verbied. Mense wat gevang word dat hulle nog dampies maak, moet die president, Gurbanguly Berdymukhamedow, se naam honderd keer ná mekaar foutloos kan opsê.

Nee, oom Herrie grap net, oortreders kry uiters stywe boetes. Die sluikhandel het natuurlik uit sy nate gebars. Omgereken betaal die nikotienverslaafdes nou sowat R200 vir ’n pakkie.

Elke hoes ’n meesterstuk.

Oom Herrie maak nie so lekker van die VSA uit nie. Daar wettig die een staat ná die ander dagga, maar terselfdertyd word die strop al stywer om die rook van twakkies gedraai. Daar is naderhand meningspeilings gedoen of die Amerikaners nie strakkies nog tabak gaan verbied en dagga wettig nie, maar dit lyk nog ’n entjie weg te wees.

Al wat oom Herrie wil sê, moet tog nooit die gewoonte aanleer nie. Oom Herrie het al te veel gesien hoe mense bitter spyt was dat hulle begin het, en nie weer kon ophou nie. Tot in die chemo-kamer het van die pasiënte, drup en al, uitgegaan om te gaan rook.

Toe oom Herrie met twee soorte kanker gediagnoseer is, het die dokter dadelik gesê die feit dat oom Herrie nie rook en skelm drink nie, gaan oom Herrie se herstelkanse verbeter. Volgens die jongste uitslae lyk sake so goed as wat dit tegnies moontlik kan wees, al lê ’n lang pad nog voor.

Maar agter die sukses lê duisende boodskappe en gebede van vriende en kennisse. ’n Groot, groot dankie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gemsbok ·

Dankie Herman en sterkte met jou kanker. Ek het hoeka 9 jaar gelede my vader aan die Ruperts se beleggingsfonds afgestaan.

Dawie ·

Sterkte. Stem saam is ‘n aaklige gewoonte. Ek het ook vir meer as 40 jaar gerook en het so 6 jaar gelede opgehou sonder moeite. Die vorige pogings was egter onsuksesvol. Dit was die beste besluit wat ek ooit kon neem. Nog nie eens weer aan rook gedink nie. Mense kan ook om my rook en dit pla my nie. Al wat ek verpes is die ou rook reuk in ‘n motor of vertrek. Terloops ek drink nie skelm nie ek doen dit openlik. ;-)

Bokkie Breytenbach ·

Ek het 50 jaar gelede opgehou rook. In Augustus 2015 beland ek in die hospital met galstene daar word ‘n sonar op my gedoen om te bevestig. dit was laat middag en ek was die laaste pasient terwyl die radioloog besig is met die skandering gesels ons so tussen in en sy wys my hoe lyk my galstene en ook my niere en my longe . Toe vra sy vir my of ek rook nee ek het 50jaar gelede al opgehou en die tekens daarvan is nog sigbaar. GROOT GIF is al wat ek kan se

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.