Oom Herrie se kerrie: Krieket by die wynvat gemeet

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Met die laaaa-a-ang rugbyseisoen voel dit eintlik glad nie vreemd dat ons op tuisbodem al kriekettoetse in Augustus speel nie. Wat ’n mens skoon nostalgies maak oor die dae toe spelers in die winter vir hul bonde rugby gespeel het, en in die somer, krieket. Dink maar aan die drie Strydom-broers, Steve, wyle Willie en Piet, wat sulke diep spore getrap het. Ook ander soos Helgard Muller, Gerbrand Grobler, om aan ’n paar te dink. En daar was baie minder beserings.

Maar nou die dag is oom Herrie baie verbaas toe ’n SAUK-krieketkommentator ’n rukkie met ’n gas Afrikaans oor die lug praat. Eintlik het hulle Kaaps gepraat, te pragtig.

Hulle raak nostalgies oor hul jong dae, ook toe hulle teen mekaar gespeel het. En toe roep Udo Carelse ’n wedstryd uit sy kinderdae op, wat op ’n wynplaas in die Boland gespeel is. Een van die kolwers slaan die bal toe in die pakhuis tussen ’n klomp wynvate in. Eers drie liter later is die bal gekry en is die wedstryd so half hoog in die takke voortgesit.

Oor die jare is interessante sesse geslaan. Die “langste” ses is glo op Nuweland geslaan – oor die pawiljoen op ’n goederetrein, en die bal is eers in Vishoek teruggekry. Volgens die apokriewe weergawe het die trein in die teenoorgestelde rigting gery en is die bal eers in Johannesburg gekry.

Toe groot krieket in Bloemfontein nog op die Ramblers gespeel is, het iemand ’n ses bo-oor Zastronstraat geslaan, waar die bal op dakke gehop en in die destydse Voortrekkerstaat opgetel is.

Die “grootste vier” is ook in Bloemfontein geslaan. Die reëls op ’n sekere veld was dat as die bal een van die rygbypale op die veld raak, is dit outomaties ’n vier. Een van die kolwers slaan ’n reusehou, en so met die trek deur die lug raak dit een van die vlaggies bo-op een van die rugbypale. Toe beduie die skeidsregter dis ’n vier – met ’n hou wat op enige krieketveld in die wêreld ’n yslike ses sou gewees het.

Kyk, oom Herrie het op sy dag ook heelwat sosiale krieket gespeel. Trouens, in ’n sosiale liga waar veral sommige wedstryde met vreeslik baie erns opgeneem is. Maar darem nie soveel erns as in die sosiale rugbyliga waar oom Herrie elke jaar uitgetree het nie. Die volgende seisoen gaan oom Herrie kyk, die tweede wedstryd is oom Herrie vlagman, en die derde is dit oorlogsake op die veld.

Met die sosiale krieket is daar gewoonlik ruim voorsiening vir die skuimkoppe gemaak. Dit raak mos warm so op ’n Saterdag in Pretoria, en ’n man raak baie dors. En dit was min of meer elkeen se eie plig om toe te sien dat hy nog “skoon” is, of al weer “skoon” is as hy gaan kolf. Nogtans het dit af en toe gebeur dat ’n kolwer woes na ’n bal sloeg, heeltemal mis en dwarsdeur die paaltjies, en die kolf kom woer-woer deur die lug na die grenstou aangevlieg.

Ná die wedstryd is dan gewoonlik ’n paar vleisies, vleisvurk in die hand, oor die kole gegooi en die drinkgoedjies moes in die ander hand gehou word ter wille van balans. Heel gemoedelik word al die land se baie probleme opgelos – net jammer niemand kan die volgende dag onthou wat al daai oplossings was nie.

Eendag was daar ’n yslike ramp. Die wedstryd is op ’n plaas ver van die stad gespeel. ’n Onverskillige kolwer slaan die bal met ’n vreeslike hou onder die tafeldoek van die tellinghouers se tafel in, en daar is ’n siek slag. Min van die bierbottels in ’n krat met water en ys het behoue gebly nadat die bal met soveel krag daarin gemoker is. Die aand moes die manne maar suinig suie en baie mededeelsaam wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
John

Groot moeilikheid, so wil dit blyk, begin altyd in die Vrystaat. Die sterkste kerrie word ook hier gebrou…