Oom Herrie se kerrie: Laat die duisendpote byt!

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Oom Herrie se huis is vol boeke – met baie ensiklopedieë. Party oud, party in Engels en pak die skuld vir die Anglo-Boereoorlog op die Boere.

Een ensiklopedie – nog in besit van Ma Johanna, het ’n ellelange artikel in om te verduidelik hoekom dit vir die mensdom altyd onmoontlik sal wees om na die maan te reis.

In ’n meer onlangse ensiklopedie lees oom Herrie dat die storie van die ou mense dat jy onbedaarlik aan die lag gaan as ’n duisendpoot jou byt, ’n wolhaarstorie is. Net toe oom Herrie gedink het hy het die oplossing vir die hedendaagse beswaardheid gevind. En oom Herrie het juis gedink ’n duisendpoot het die prez so skrams bygekom dat hy so ontydig staan en hê, hê, hêêê.

Wanneer die res van die land wil skerpioene kou …

Maar daar is ’n paar dinge wat help dat ’n mens darem lag kry in selfs die mees bedrukkende omstandighede. Soos die lagmasjientjie.

By geleentheid het Steyntjie ’n lagmasjientjie klas toe gebring. Dié het hy in Klaasvakie se klas sy ding laat doen. Klaasvakie het naderhand wakker geword van die gekraai van die masjientjie, en die geproes in die klas, en was net erg omgesukkel. Soos een man vertel die klas dis die spreeus in die dak wat so raas.

Terstond pak Klaasvakie weer sy ammunisie weg en sê hy sal met die skoolhoof oor die spreeus gaan praat.

Sommige mense meen ’n mens hoef net na die prez te luister, dan raak ’n mens ook onbedaarlik aan die lag. Ja, soms is dit so, maar dis ongelukkig nie gewaarborg nie, veral as hy goed sê wat die land ’n reusesprong na rommelstatus laat gee. En nou is die land op die randjie – nog so ’n uitlating en die land tuimel daaroor – al is dit met ʼn hê, hê hêêê …

Oom Herrie se hart is seer oor hoe baie rugbymense Suid-Afrika se saakmakende rugby tot enkele groot bonde wil beperk. Waar was die dae toe bonde soos Noordwes-Kaap en Noordoos-Kaap speelkans teen die All Blacks en ander buitelandse spanne gekry het? So het ’n mens geleer van ysters soos Saag Jonker, Bokkie Gerber, Bert Young, Herklaas Engelbrecht, Kakie Goosen, Jan Tromp en vele ander.

Ja, destyds het spelers met groot talent soms ook bitter ver gery om vir bonde met ’n bietjie meer lyf te gaan speel, soos James O’Kennedy van Loeriesfontein wat saam met Dawid van der Merwe in ’n gedugte Bolandse voorry gesak het.

Die Oos-Vrystaat het ’n ellelange lys stutte opgelewer wat elders gaan speel het, soos Faan Rautenbach, Mof Myburg en Jannie du Plessis.

Ook die legendariese Dok Danie Craven het van Paul Roux in die Oos-Vrystaat gekom, saam met ’n rits ander soos Gerrie Brits en Frans Steyn.

Hoeveel talent loop nie ongesiens op die platteland rond omdat hulle nie die geleentheid kry nie? Die bruin en swart spelers wat nogtans deurbreek, word sommer gou deur groot bonde gekoop om hul “kwotas” vol te maak.

Noordwes bly vir oom Herrie ’n hartseer saak. Met groot sentra soos Klerksdorp, Potchefstroom en Rustenburg, ’n sterk universiteit, ʼn nasionale kampioenklubspan in Rustenburg, ’n rugby-akademie, goeie voedingskole en als, kan dit weens die fokus op “groot bonde” nie deurbreek soos dit moet nie. Die beter spelers is oop teikens vir stroping deur groter bonde.

Nee, bring sterk rugby terug platteland toe, en kry ’n goeie keurpaneel sodat Toetie nie nog die blaam vir spankeuses ook kry nie.

Ontgin die talent – of hulle nou van Hawston (oorspronklik Oom Herrie se Baai), Bethlehem of Thabazimbi kom – dan gaan ons vonke sien.

En hoef ons nie lagmasjientjies te gebruik om die stroefheid te verdryf nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.