Oom Herrie se kerrie: Lag, en die wêreld wonder wat makeer jou

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oom Herrie is mos maar iemand wat wyd hou om die politiek, maar onlangs het onse prez (al weer) in die parlement gegiggel, gegrinnik en gelag toe hy eintlik moes gehuil het. Want sien, dis skade en skande, ’n ekonomie in sy peetjie in en ’n vreeslike droogte, maar die prez dink dis snaaks.

Normaalweg is mense mos bly as iemand, veral vir hulself, lag. En, so lees oom Herrie die wysheid die afgelope paar dae, as jy vir jou eie foute kan lag kan jy selfs langer leef. (Maar, waarsku die wysgeer, as jy vir jou vrou se foute lag, kan jou lewe erg verkort word).

Is dit die prez se gelag wat die mense so die hoenders in het, of die manier waarop hy kritiek met minagting, wel, aflag?

Toe gaan lees oom Herrie bietjie op, wat maar net weer bo alle twyfel bewys oom Herrie kan lees.

Om onvanpas te lag is toe ernstige sake. Dit dui daarop daar is iets fout, en die bronne lys so tien of meer ernstige toestande wat dit kan veroorsaak. Dinge soos demensie, dwelmverslawing, sosiale angs, Tourette-sindroom en gelastiese sindroom. En soos almal weet, is “gelos” die Grieks vir “gelag.” Behalwe natuurlik in Afrikaans waar dit iets te make het daarmee as ’n man ’n oulike Griekse nooi in die oog kry en iets met sy vrou doen.

Nou wil oom Herrie nie beweer die prez makeer een van hierdie dinge nie. Dan is daar nog Angelman-sindroom. Oom Herrie dink nie die prez kan dit makeer nie, want van Engels weet die prez te min om ’n Angelsman te kan wees.

Boonop sien oom Herrie ook nie dat Nkandlasitis, of ontrekkingsimptone van die luuksvliegsindroom die oorsaak van onvanpaste lag kan wees nie.

Nee, oom Herrie is nie ’n kopkrimper nie, en het boonop ook nog nie die prez gespreek, of soos RSG deesdae sê, gesien, om ’n diagnose te maak nie.

Die vreemdste vir oom Herrie is dat die prez skynbaar immuun is teen ’n doodnatuurlike kuur wat hy self geskep het. Kyk, as oom Herrie die dag so onvanpas en onbeheers aan die lag gaan, gaan prop hom net in ’n sitting van die Zuma-kabinet in. Net een kyk na van daai ministers en die lag is blywend weg. Want kyk, sommiges kan hulle darem maklik uithuur om in ’n drieslaapkamerhuis te gaan spook.

Maar oom Herrie sal maar nie name noem nie. Ook nie die portefeuljes nie want min van die ministers weet iets van hul portefeuljes, soos kommunikasie, onderwys en so aan en dit kan erge verwarring veroorsaak.

Dis harde werk om mense aan die lag te kry (as hulle nie iets makeer nie). En daarom is oom Herrie so bly dis gewoonlik sy werk om mense eerder die d*n*er in te maak.

Wat oom Herrie laat dink aan die lelike ou, so lelik dat hy nie eens ’n skewe deksel kon kry nie. Toe gaan hou hy maar alleen in die Bosveld vakansie, en daar loop staan sy ryding sonder diesel. Niemand hou stil om te help nie, en hy moet voetslaan.

So kom hy op ’n stat af, maar toe die kinders op die buitewyke hom sien, sit hulle en hul honde en die bokke wat hulle oppas op loop die bosse in. Toe die vroue wat in die landjies werk en die hoenders en skape. En oplaas die manne wat die Saterdagmiddag in die skaduwee van hul hutte lê en uiltjie knip het. Net die oudste bly sit in sy hut se deur. Hy kan nie meer mooi sien nie, en bekyk so goed hy kan die naderende figuur om te probeer uitmaak hoekom sy mense so die pad gevat het.

Met die besoeker amper by hom lyk dit of daar lig opgaan, en die oudste begin onbedaarlik lag. “Ek ken daai deng,” proes hy. “Mens roep hom die mombakkies.”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Die paashaas ·

Ged-ley-ih-le-kisa. Die een wat lag terwyl hy jou afknou. Dit is die betekenis van Zuma se naam, en eerder as om vír iets of iemand te lag, vermoed ek dat hy net die betekenis van sy naam uitleef, wat meer dui op selfbeheptheid en egoïsme. Dankie vir die fynproewer humor saam my oggendkoffie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.