Oom Herrie se kerrie: Liewe Heksie en die Gifappeltjies

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oom Herrie kan net dink hoeveel “ammunisie” Dowwe Dolla nou het ná die “Gifappeltjies” die Liewe Heksie-produksie tydens die Vrystaatse Kunstefees ontwrig het. Dowwe Dolla het die rol van Liewe Heksie vertolk. As sy net haar towerwoorde kon onthou het, kon sy die hele spul in muise verander het en dan vir Matewis die kat op hulle gesit het.

Trouens, noudat oom Herrie daaraan dink, daar is ’n hele paar vakbonde wie se stakers en betogers Liewe Heksie in muise kan verander.  Haai oe!

Of koning Roseboom sal saamstem, weet oom Herrie nie. Miskien sal hy hulle as ruimtemanne wil gebruik vir die eksperimentele ruimtetuie wat hy van Kaap Karnaval af lanseer. Op Venus, die maan en Mars kan die spul dan sommer sien hoe lyk ’n plek ná ’n Gifappel-geaffilieerde vakbond daarmee klaar is. Hulle sal weer redeneer dis die kapitaliste se werk…

Wat oom Herrie laat dink – daar is alewig mense wat twyfel of die groot koste verbonde aan ruimtereise die moeite werd is. Wel, die afgelope Sondag is ’n asteroïde “naby” die aarde verby, wat glo ’n kern van platinum het. Daar word bereken dat die edelmetale in die asteroïde sowat $5,3 triljoen werd is. Dis nou wel net ’n groot druppel aan die emmer van die geraamde $18 triljoen wat die VSA skuld en waaroor die magnaat Donald Trump so ’n lekker kabaal opskop. Trump probeer om die VSA se volgende president te word.

So byna ’n honderd jaar gelede het ’n oupagrootjie van oom Herrie en ’n buurman een aand op die stoep gesit en kuier. Dit was volmaan, en die buurman wonder naderhand of daar dalk goud op die naam is.

“Nee,” meen oupagrootjie, “want as daar was, was die Ingelse lankal daar.”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.