Oom Herrie se kerrie: Los spoke as jy drink

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Spookstories en ʼn hap of twee te veel loop dikwels hand aan hand.

So ’n paar jaar gelede, onthou oom Herrie, het dit na ’n veeveiling daar anderkant Afrikaskop vreeslik jolig gegaan in die tent waar die likiede bates weggeslaan is. Man, amper net soos in ’n kroeg (het oom Herrie verneem).

Die een sal sommer simpel en raserig raak. Die ander eintlik weer stiller, en met ʼn maat heel bedees al die land se probleme oplos – oplossings waarvan hulle die volgende dag ongelukkig niks kan onthou nie. Met die een voet so ongemerk as moontlik om ’n stoel- of tafelpoot gevleg om nie om te slaan nie. Of iemand sal eenkant doodstil sit en sy teugies neem, en dan skielik opstaan en nonsens praat.

Soos daai dag toe klein Floors skielik omdraai en hardop sê: “Ek wed julle honderd rand daar is g’n spoke nie!”
So traag-traag draai die koppe na klein Floors, korrel dooierus oor die ooglede na hom, en alles sou weer net so aangegaan het, maar toe stap die jong Flippie Barnard mos in. Hy is ʼn onderwyser in Bloemfontein, maar verloof aan die welgestelde oom Frans Gerber se mooi dogter, wat in Bethlehem skoolhou. Niemand het Flippie nog ʼn sterkerige dingetjie sien drink nie.

Flippie is so nugter soos ʼn vars oggendbriesie. En hy stap reguit na klein Floors. “Top” sê hy, en diep sommer ’n R100 uit sy sak. Oom Karel, die spysenier, kap deur en sit die twee honderd rand note onder ’n leë bottel.

“Binne vyf minute het ek my weddenskap gewen,” sê Flippie, draai op sy hak om en groet sommer so in die uitstap.
’n Minuut of later kom daar ’n klipharde kragwoord van oom Berend, wat eenkant sy koerant sit en deurblaai het.

Oom Berend is nou nie juis bekend vir sulke kragwoorde nie, en daarom kyk almal na hom. Hy is doodsbleek, en bewend draai hy die koerant om dat almal self kan sien.

Daar staan die groot opskrif: “Jong onderwyser sterf in ongeluk op pad na verloofde.” En langsaan is Flippie se foto.
Terwyl die koue rillings in vele ruggrate afloop, draai almal se koppe na die leë bottel – maar weet reeds daai twee R100 note sal weg wees…

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.