Oom Herrie se kerrie: Nala, die “kat-hond”

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Nala is ’n weggooihond wat kleintyd op die Herries se pad gekom het. Hier het sy dadelik dik vriende geword met Wolf, die Herries se poolhond met ’n titseltjie of wat Arktiese wolf in sy are.

Wat Nala is, is nie heeltemal duidelik nie, maar dit staan skynbaar soos ’n paal bo water dat sy taamlik baie beeshond-bloed in haar are het. Wat beteken sy moet ook ’n titseltjie dingo in haar omdra. Die veearts sê die knop op die agterkant van haar skedel dui op ’n ietsie windhond, en ja, in haar lang pels wil-wil ’n riffie deurslaan.

Maar dit lyk bepaald of een van haar voorsate ’n bietjie bakoorjakkals opgedoen het – die besonder lang regop ore, die rugkromming na bo en die voorpootjies wat so na buite wys. En ja, sy is dol oor goggas vang. Dis egter nie al wat sy vang nie.

Met die droogte het duiwe en ander voëls gereeld in die kombuis gekom om oorskietkos uit Wolf en Nala se bakke te kom pik. Nou is daar al ’n paar duiwe minder, tot die Herries wat die voëllewe koester se ontsteltenis. Nou die dag, sommer op een slag, het Wolf en Nala vir hulle elkeen ’n duif gevang.

Wolf en Nala is dol oor enige moontlike stappie, en dis ’n aardigheid soos hulle kort-kort iets uitgesnuffel kry. ʼn Mens hoor net beentjies kraak en dan word vir ’n volgende moontlike aas gesnuffel.

Wolf gedy skynbaar op hierdie aas. Indien enigiets, maak dit hom effe hardlywig. Maar Nala…

Nou die nag word oom Herrie wakker van ’n kat in die kamer. Oom Herrie is ’n kat-mens, en Wolf en Nala nou nie eintlik nie. Dus gou spring om die kat te red.

Maar daar is g’n kat nie. Dis Nala se pens wat so raas. Trouens, sy is kort-kort buitentoe, en die volgende oggend het die talle slagysters verklap dat daar ’n oorsaak was vir Nala se maaggeraas.

Maar dit was te aardig. As oom Herrie kombuis toe stap om water te gaan drink, val Nala in maar dit klink of dit ’n kat is wat saamstap. Dit klink kompleet of sy ʼn kat moes ingesluk het. Dit miaau en grom en blaas.

Die volgende aand is die pensprobleem oor, en sy sit op die dubbelbed na oom Herrie gaan inkruip het. Ingedagte beweeg oom Herrie ’n vuis onder die komberse. Nala spring regop soos ’n kat wat iets bewegends wil bespring. En sy spring, en sy spring, die koppie wat die “muis” onder die kombers stip volg.

Maar toe wys sy sy is g’n kat nie. Sy pluis uit dis oom Herrie wat vir die “muis” verantwoordelik is, en kom gee oom Herrie ʼn klapsoen.

Ja, Nala is die eerste hond van die Herries wat so lief is om soene uit te deel.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke, Troeteldiere

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.