Oom Herrie se kerrie: Oggendstond het ryp op die grond

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Ja, dis weer tyd vir die oggendstond het ryp op die grond. Die winter het goed ingeklim, na hy eers so soort van wyd gehou het.

Oom Herrie wonder in hoeveel huishoudings word daar nou snags patrollie geloop om ’n keer af wat die warm water te laat deurloop. Verlede winter het oom Herrie een aand tot 2-uur rugby geluister en toe die krane laat loop – sonder ʼn druppel water. Klaar te laat. Die volgende dag was Mev. Herrie se kombuis onder water. Ook nie danig vroeg nie – dit het nogal lank gevat voor die ys gesmelt het sodat die water kon begin loop.

Maar Wolf gee nie om oor die koue nie. Hoe kouer, hoe meer is hy in sy element. Verlede winter het sy winterhare nie eens uitgekom nie. Maar Wolf is ’n wit poolhond met skynbaar ’n hele kwota Arktiese wolf in sy are. Waaroor Wolf wel omgee is as die Herries iewers heen gaan en hy moet by Nala agterbly. Selfs al is dit net ’n paar minute. Want kyk, as ons terugkom kry ons in wolwetaal raas. G’n niks van daai stilligheid wat poolhonde gewoonlik kenmerk nie. Dis sulke lang uitgerekte gromme waarvan die toonhoogte op en af gaan. Soms begin dit in ’n amperse blaf, maar dan kom hierdie onaardse geluide.

Nala blaf. Maar so kom oom Herrie agter, haar “gesels” is eintlik met haar vreeslike lang ore wat haar nogal na ’n bakoorjakkals laat lyk. Sy gebruik haar ore soos seinvlae, terwyl die uitdrukkings op haar gesig duisende verhale vertel.

Soggens, as ons gaan stap, lag sy breed, en is die ore kiertsregop. As sy lekker aan ’n been kou, beweeg die ore van heeltemal regop, tot platgetrek agter die kop en sy het ’n hemelse uitdrukking op die gesig. Sy het nou die dag eers ’n jaar oud geword en oom Herrie bestudeer nog die “taal”.

Al is Nala ook baie harig, klim sy in die winter nie van die Herries se dubbelbed af voor opstaantyd die volgende oggend nie. Behalwe af en toe wat sy dit nie deurnag maak nie en aan die deur gaan krap.

Maar so van die hond op die padda. Oom Herrie het die afgelope week ’n paar vreemde stories geskryf. Soos ’n plek in China wat deur derduisende skurwepaddas oorgeneem is na groot reën ’n dam laat vol word het.

Of die skurwepaddas sommer geëet sou word, weet oom Herrie nie, want in Suid-Afrika is vier van die minstens vyf spesies giftig. Al gesien hoe ’n hond se bek skuim as hy ’n skurwepadda probeer vang? Daar is gifkliere in die vel.

In Japan gaan die meer as ’n halfmiljoen hysbakke met noodtoilette uitgerus word. Dis nou na ’n veraf aardbewing ’n klomp hysbakke in Tokio tot stilstand laat kom het. Nou verstaan oom Herrie mense raak erg benoud as ’n hysbak met hulle gaan vassteek, en dit neem meer as ’n uur om bevry te word.

Dan was daar ’n Amerikaanse peiling wat toon dat oud-pres. George W. Bush nou gewilder onder Amerikaners is as pres. Barack Obama. In die buiteland bly Obama vreeslik gewild en Bush word steeds verguis, maar hulle kies nie die Amerikaanse president nie.

Maar oom Herrie sal nogal belangstel om te weet hoe ’n sekere ander president in die buiteland in ’n gewildheidspeiling sal vaar. Veral as die opname onder beleggers gedoen word.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pietertjie ·

Ek sukkel om Herrie se tweede paragraaf te verstaan. Het self in my eerste vyf bestaansjare in die Rosestad gebly, hoofsaaklik omdat my ouers ook daar was. Het dit dalk iets te doen met waterpype wat vries en bars?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.