Net toe oom Herrie die goeie nuus kry, dat daar goeie vordering is om sy kankers onder beheer te kry, lees hy van Rooies van Wyk, wat aan prostaatkanker dood is.
As skoolkind, onthou oom Herrie, het hy en ander skoolkinders Coetzenburg toe opgeruk vir ʼn wedstryd tussen Maties en ʼn gekombineerde WP-Bolandspan. Die jongklomp se belangstelling was gaande oor die verwagte vuurwerke in die tweestryd tussen Rooies en Jan Boland Coetzee. Van dié vuurwerke het niks gekom nie, maar ons het ʼn losskakelvertoning gesien wat ons oortuig het die speler, Dawie Snyman, gaan sommer gou Springbok word. En hy was, nog voordat hy die WP-span gehaal het.
Maar ʼn persepsie oor Rooies as robuus het in oom Herrie se kop bly steek en die lees van die berig was eintlik ʼn openbaring: ʼn afgeronde mens uit Namakwaland, met ʼn doktorsgraad, wat diep spore in Boland se rugbybestuur getrap het.
Die internis sê al lankal sy wil “Guns” oor oom Herrie se lêer skryf. Die gunstige manier waarop die een kanker, juis prostaatkanker, op die behandeling gereageer het is “ʼn wonderk op sy eie.” Nou het die ander kanker se tellings ook baie verbeter. Tot die Maltakoors, wat ook oom Herrie in die verlede so gekortwiek het, veral met landloop, is skoonveld.
Die internis reken oom Herrie het, soos Job en Dawid, guns in die oë van die Here gevind. Ook ander dinge, soos ʼn vroulief wat bitter baie opoffer, ʼn gesin wat getrou bystaan, vriende, ook Facebookvriende met gereelde beterskapswense en gebede en ʼn gemeente wat omgee, wys hoeveel guns oom Herrie toebedeel word. Oom Herrie is oneindig dankbaar.
Nie dat dit aldag ʼn maklike proses tot hier was nie en ook nie dat ʼn lang, moeilike paadjie nie nog voorlê nie. ʼn Week voor die goeie nuus was oom Herrie baie swak in die hospitaal. By geleentheid moes die personeel oom Herrie agter die toiletbak uitsleep waar hy geval het. En om pasiënte agter die toilet uit te sleep en op te help is nie deel van die personeel se “job description” nie.
Elke keer wat die dokter van “guns” praat, voeg Mev. Herrie by “genade.”
Ja, oom Herrie is begenadig.
As ander mense nie as liefdesdiens bloed geskenk het nie, was oom Herrie seker nie meer daar nie.
As dit nie vir ʼn wonderlike predikant was wat oom Herrie so goed verstaan nie, gesin en familie en vriende wat oom Herrie ondersteun nie, dan het oom Herrie regtig swaar getrek.
Tereg kan oor oom Herrie se lêer geskryf word: “Guns” en ja ook “genade.”
Ek sien altyd baie uit na oom harrie se wysheid, nuuskommentaar, deur genade gaan ek nog lekker lees vir baie jare.