Oom Herrie se kerrie: Om bietjie huis toe te kan gaan

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Die tannie in die bestralingseenheid se wagkamer se gesig blom. “Ons gaan die naweek huis toe,” sê sy. Reitz toe. “En volgende naweek weer.”

Dis ’n langnaweek, en hul dogter van Middelburg “in die Transvaal” kom hulle in Bloemfontein haal en huis toe vat. Die volgende naweek is Paasnaweek en dan is dit weer so.

Die oom kry bestraling, en die tante het saamgekom vir die sewe weke. Gewone naweke sit hulle in Bloemfontein vasgevang.

Van heinde en ver kom mense vir bestraling. Van Douglas tot Christiana tot Bethlehem, en nog vele ander plekke.

Gewoonlik kom die wederhelf saam, maar dis nie altyd moontlik nie. Die bestralingskedules word vir die plattelanders aangepas sodat hulle Vrydagoggende vroeg klaarmaak, en eers weer Maandagmiddae moet aanmeld. Vrydae is daar ’n opgewondenheid soos met koshuis-uitnaweke. “Ons gaan huis toe!”

Baie gaan in gastehuise tuis, maar ander is gelukkig om by familie of kennisse te kan tuisgaan. Een tannie het vertel hoe gelukkig hulle is dat familie ’n woonstelletjie in die agterplaas het waar hulle kan tuisgaan.

Die oom van Reitz het vroeër vertel hulle bestuur nog albei, maar “hulle” wil nie meer dat hulle so ver op hul eie ry nie.

Oupa Nic het self sy sewe weke by die Herries deurgebring. Gelukkig was Groot Herrie se klasse van so ’n aard dat hy sy oupa elke dag hospitaal toe kon neem. Oupa het lekker gekuier, en ons het diep gesprekke gevoer. Die telefoon moes instaan om gereeld met ouma Engela te kon gesels.

Maar Vrydagoggende was oupa so opgewonde soos ’n kind. Dan het sy geliefde Erfenis tussen Bethlehem en Kestell geroep. So het hy elke week ’n stukkie Vrydag en stukkie Maandag by die naweek bygevoeg gehad.

Nou, ’n paar jaar later, kry oom Herrie dieselfde behandeling as oupa Nic. Oupa Nic het ons ondertussen ontval, maar nie van die kanker nie.

En oom Herrie se bewondering vir oupa Nic se blymoedige hantering groei by die dag. Oom Herrie sou baie moeilik die naweekritte kon aanpak, want die bestraling put oom Herrie werklik erg uit. Maar dis nie al nie. Oom Herrie is gelukkig as hy eers ’n uur na die vorige keer moet kamer verlaat. Gewoonlik is die intervalle baie korter uiteen. En dis nie soos ’n gesonde mens wat kan knyp nie – as die natuur iemand met oom Herrie se moeilikheid roep, is dit uithaal na die naaste gerief om betyds te wees.

Oom Herrie se bestraling staan einde se kant toe en hy kan nie wag dat dit klaarmaak nie. Die bloeddruk neig al laag, en nou een aand raak dit sommer weg so aan oom Herrie se linkerkant, en hy slaat neer. Op die dubbelbed, gelukkig.

En aai, daardie eerste lekker bad ná die bestraling verby is! Ongelukkig op die gouste eers twee weke ná die laaste bestraling.

Maar kom kyk maar of daar langgesigte in daai wagkamer is. Oom Herrie het nog nie een raakgeloop nie. Nee, almal is opgeruimd en baie is geselserig. Soveel mense wat vir ons in daardie wagkamer bid, en gereelde boodskappe – dis ’n riem onder die hart.

En ja, om self te beleef en te sien hoe ander se wederhelfte hulle onderskraag, is kosbaarder as korale.

En, soos een gesê het kort nadat hy die nuus gekry het dat die groot K hom nie verbygegaan het nie: “Ek het ’n wonderlike Pa wat sal sorg. My Pa woon in die hemel en hy sorg altyd.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Johann ·

Ai oom Herrie, vanoggend sit ek met ‘n traan in die oog. Aan oom en al die pasiënte wat so blymoedig is, ek bewonder julle. Gou gesond word. Ek bly bid daarvoor. Sterkte.

Grobbie ·

Oom Herrie, ek dink julle is die skare geloofsgetuienis waarvan die Brief aan die Hebreers praat. mense met deursettingsvermoe soos min. sterkte!

Maria van Dieweeck ·

Mag die Here oom Herrie en kie vul met sy gees, bid vir almal daar. DANKIE dat oom so mooi deel hieroor

neelsie ·

Dankbaar dat n vriend genees is van kanker, God het gebed verhoor!!
Sterkte aan almal wat siek is,daar is hoop .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.