Oom Herrie se kerrie: Om (gekoring) die toekoms in te kan sien

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Oom Herrie se kennis van die rooi taal het hom so byna gepootjie. Wat Oom Herrie gedink het hy lees, is dat ’n bekende ontwikkelaar van rekenaarprogramme ’n toestel aan die ontwikkel is waarmee ’n mens in die toekoms in kan koekeloer.

Wat toe in werklikheid daar staan is dat om na die prototipe van die toestel te kyk, kry ʼn mens ’n idee van waarheen die ontwikkelaars in die toekoms daarmee mik.

En ja, met die regte Engels agtermekaar beteken dit dat ’n mens iewers in die toekoms die toestel op ’n mens se kop sit, wat dan die oë bedek. En wanneer dit speel, integreer dit die beelde wat ’n mens deur die toestel sien, met dít wat werklik om ’n mens is.

So kan ’n mens byvoorbeeld sien hoe Spider-Man in ’n mens se eie sitkamer bo-oor Wagter spring wat op die matjie lê en dut. ’n Karakter kan op die stoel langs jou kom sit en jou oor jou volgende ruimtesending inlig.

Oom Herrie weet nou nie of hy vir sulke dinge kans sien nie. Oom Herrie het nie eens ʼn ruimtetuig nie.

Waarvoor Oom Herrie wel sinnigheid sal hê is ’n toestel wat in die plek van ’n diefalarm kan werk. Wanneer die inbreker in die huis is, moet dit vir hom lyk of daar ’n briesende T Rex-dinosourus brullend op hom afstorm, of nog meer skrikwekkend, ’n skoonma met ’n koekroller. Terselfdertyd moet dit lyk of die deur agter hom toeklap en op grendel kom. Natuurlik bedoel Oom Herrie nou nie sy eie liewe skoonma, of Groot Herrie se liewe aanstaande skoonma nie.

En natuurlik ’n bykomstigheid, ’n toestel om die vloer mee agterna skoon te kry.

Maar terug by die aanvanklike misverstand. Oom Herrie weet dit sal nuttig wees om ’n toestel te hê waarmee die toekoms ingeloer kan word. Soos om op die aandelebeurs te woeker, of natuurlik perde te speel, seker te wees ’n reis gaan voorspoedig wees voor die reis aangepak word, en so aan.

Maar Oom Herrie kan aan ’n hele klomp dinge dink wat ’n mens deur so ’n toestelletjie kan sien, maar wat ’n mens nie wíl sien nie en ook nie iets kan doen nie.

Twee manne wat graag ʼn bietjie die toekoms sou wou sien, is saam met hul vroue en die een gesin se dogtertjie op pad see toe. Die twee mans sit agtermekaar in die kar, en die twee vroue ook. Die dogtertjie sit agter tussen haar pa en ma.

Dis warm, en die twee mans het hul eie watersak wat by die venster uithang. Die twee vroue aan die ander kant het ook hul watersak wat in die ry buite afkoel.

Omtrent halfpad see toe trek die spietkop hulle af. Hy vermoed baie sterk die bestuurder het te diep in die watersak, ekskuus, bottel gekyk. Ta moet ’n ballon blaas, en op slag verkleur dit. Nou is dit groot moeilikheid.

Maar die dogtertjie begin huil – sy wil ook een van daai ballonne hê wat so verkleur as ʼn mens dit opblaas. Om haar stil te kry, gee die spietkop vir haar een aan, sy blaas, en daar verkleur dit ook.

Die spietkop besluit die ballonne is oud of foutief, en laat die mense verder ry. Nie lank nie vra die dogtertjie water: “Maar ek wil van ma-hulle se water hê, nie van pa-hulle s’n nie. Dit proe te sleg.”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Oom Herrie maak my baie bang. Gaan dinge in die land so sleg dat ons nou in kodes moet kommunikeer? Ek het nou al ‘n paar koppies koffie agter die blad, maar die’ een kan ek nie kraak nie. Spel vir ons die toekoms uit Oom! Moet ons Amaroela en meelblom oppot en ‘n waterdrom opsit vir die dae wat kom? O ja, en sjokolade, dit help glo teen skok en laaf mens glo teen politieke skokke. My dokter wil ‘n vennoot kry oor die groot toeloop van pasiente vir middels teen kwellinge van die hart soos dinge nou aangaan en hy het nie eens so ‘n oulike masien wat toekomstige ontwikkelinge kan sien nie. Oom Herrie, is jy nog daar…?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.