Oom Herrie se kerrie: Om met die HAT “geslaan” te word

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Vandag het mev. Herrie se pakkie van Leserskring gekom. ʼn Dik pakkie. Die Herries se nuwe HAT.

So dik soos ʼn baksteen wat op sy sy staan en oom Herrie wonder hoe lank gaan die benaming “handwoordeboek” nog toepaslik wees? Want dis dikker en groter as ʼn man se hand.

Nietemin, die HAT het diep spore deur die Herries se voorgeslagte getrap. Oom Heine Toerien se pa, Frank, was op sy dag assistent-redakteur van die HAT, waar hy 17 jaar lank gewerk het.

Die ding van die HAT is dat dit argumente oor Afrikaans beëindig.  Maak nie saak hoeveel ander bronne sê ʼn mens kan “loods” vir ʼn passasiersvliegtuig se vlieënier gebruik nie – as die HAT sê nee, dan is dit nee. Dis net oor die woord “pensioenaris” waar sommige taalpuriste vasskop en sê dit moet pensioentrekker wees, al sê die HAT ook nou wat.

En as iemand nou steeds bly by sy argument oor wat mag, ten spyte van wat in die HAT staan, is die HAT nou gemaklik dik genoeg om die hardkoppige daarmee oor die kop te moker – katswink.  Die HAT sal steeds die argument beëindig.

Deesdae, moet oom Herrie bieg, kry hy woorde darem baie makliker in woordeboeke. Oom Herrie het agtergekom dit volg alfabeties op mekaar.

Maar oom Herrie bly half skepties oor boeke, na ʼn vreeslike stelletjie ná matriek.

Kort ná die Nuwejaar moes die jonge Herrie by SAW & Seuns aanmeld en Pa Jan wou so graag dat Herrie ʼn rybewys kry voor die Baie Dae-trein se vertrek. Agter in ʼn padatlas is ʼn klomp blaaie met padtekens en oom Herrie leer hulle.

ʼn Verdrietige vermorsing van tyd. Want toe die spietkop begin vra, sê oom Herrie wat die atlas sê dit moet wees. Tot vandag kan oom Herrie een in die besonder onthou. Dis ʼn prentjie van twee motors langs mekaar, maar met ʼn streep deur die een aan die regterkant. Die atlas sê dit beteken dubbelparkering is verbode. Die spietkop kry so ʼn skewe glimlaggie en stel voor oom Herrie leer eers uit die regte boek. Daarin sien oom Herrie daai ene beteken eintlik verbysteek is verbode.

Oom Herrie het eers sy rybewys ná sy diensplig gekry en ook eers na ʼn tweede probeerslag. Kyk, oom Herrie kon bestuur, maar nou nie soos die spietkops daarvan gehou het nie.

Ry met ʼn ou Volla teen 35 myl per uur in ʼn straat af… By ʼn afdraai sê die spietkop draai links. Oom Herrie is nie regs nie, gooi die karretjie terug in derde rat, sit die “flikkerlig” aan (na links) wat ʼn armpie aan die kant van die Volla laat uitkom en die Volla skuif tsjie-tsjie-tsjie om die draai – steeds teen 35 myl per uur.

Die spietkop was half die dinges in – hy het bedoel, omdat hy te laat gesê het van die links draai, dat die jonge Herrie moes reguit aan ry en sê dit was te laat.

Ook maar goed, het oom Herrie gedink, dat hy nie gesien het hoe ons bestuur as ons op Merino springhase gejag het nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.