Oom Herrie se kerrie: Om ore uit te leen

play-stone-1744790_1920

Foto: Pixabay

Deur Herman Toerien

Ons ken almal die speletjie van “telefoontjie” en hoe verdraaid die storie aan die ander kant uitkom. So gaan dit dikwels met iets wat gebeur, en in die volksmond stertjies en selfs bene bykry wat self aan die hardloop gaan.

So gaan dit met die stories oor die “misterieuse” fort net noord van Bloemfontein. Dié storie het ek met min variasies uit verskeie oorde vir die waarheid gehoor. So ʼn ent buite Bloemfontein is ʼn huis soos ʼn fort gebou. Dit was glo ʼn presiese replika van Hitler se blyplek met bunkers en al. Die destydse eienaar het glo bedoel Hitler kon ná die oorlog daar in ʼn “bekende” omgewing kom bly.

Oor die jare is die huis vir verskillende doeleindes ingespan. In ʼn stadium het vier argitekstudente die plek gehuur terwyl hulle studeer. Hulle het ʼn vreeslike knap swart man gehad wat in die tuin gewerk het, huis skoongemaak het, en nog hul kos ook gemaak het.

In ʼn stadium let die studente op hul brandewyn sak darem vinnig. Iemand is besig om die ander se aandeel op te drink.

Hulle hou vergadering, maar al vier hou onderskeidelik vol dis nie hý wat die bottel so vinnig laat sak nie. Toe word die swart man verdink. Hulle beraam ʼn plan, en toe die bottel amper op is, koop hulle ʼn nuwe. ʼn Groot deel van die inhoud word in die ou bottel oorgetap, en die bottel veilig weggesteek. Die nuwe bottel word met urien opgevul, en op sy gewone plek laat staan.

En werklikwaar, daar sak die nuwe bottel ook. Toe hy amper leeg is, tree hulle die swart man aan. Maar hy sweer op sy Zion-bêdge dis nie hy nie. Hy drink dan heeltemal niks. Maar hulle beduie hoe die bottel nou weer gesak het.

“Ja, maar ek gebruik die brêndie om te gooi by die keinbasies se kos.”

Die werklike verhaal, soos vertel deur ʼn oudinwoner self, is eintlik veel interessanter. So skryf Arend Muller wat werklik agter die kap van die byl sit:

“Die herehuis BERGHOF is deur die oogkundige Glietenberg se vrou laat bou deur Italiaanse krygsgevangenes. Sy het bygestaan en weet waar is elke klip ingebou. Die ou poskantoor se vensters is hergebruik. Onder die binnehof was ’n groot wateropgaartenk. Die huis moes geskik wees indien Hitler Suid-Afrika sou besoek. Prof. Claus von Delft het as student by mev. Glietenberg loseer. Vier van ons, argitektuurstudente Rudolf Roos, Piet van Coller en ek, Arend Müller, en Dries Erwee, bourekenaarstudent, het die landgoed in 1971 gehuur teen R26 per maand vir 26 vertrekke! Mev. Glietenberg se huishulp Dora het vir ons huis skoongemaak en Joremia het soms buite gehelp. Voordat hulle in die huis ingekom het, het hulle hul skoene buite uitgetrek soos mev. Glietenberg hulle geleer het. Ná Dries se vertrek het Peter Schumann sy plek oorgeneem. Ons het beurte gemaak om kos te maak, bier gedrink en baie partytjies gehou. Baie gaste het staaltjies uitgedink oor die Glietenbergs. Ons het nooit ’n kok gehad nie. Ná ons het dit tradisie geword dat argitektuurstudente die plek huur. Die brandewynstorie is ’n lekker opgemaakte verhaaltjie!”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

John ·

Oppas! As sekere mense die storie lees word van die reeds oupas in die verhaal voor die hof gedaag soos anner mense vir hoogs waarskynlike verraad, ‘n te ruim woordeskat of dranksmokkel sonder ‘n omkooplisensie.

Suid Afrikaner trots ·

Ek wens ek kon baie meer sulke interessante plaaslike geskiedenis stories lees oor meer plekke in ons land.

Vytjie Molefe ·

Skitterende storie….ek het dit nou erg geniet, lekker gelag so tussen al die neerdrukkende nuus…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.