Oom Herrie se kerrie: Ongefluite koffie

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Danksy buitebeurtkrag het daar ’n nuwe uitdrukking in die Herries se huishouding ontstaan; ongefluite koffie.
Want kyk, dis net ’n poks as die Herries se sektor se krag volgens die uitgereikte skedule afgesit word.

Gelukkig het mev. Herrie die elektriese stoof al ’n ruk gelede laat gaan, en ’n gasplaat gekry. Kosmaak as ’n mens van die kerk af kom en die huis is kragteloos, is dus nie meer ’n kopkrapper nie. Maar die boeretroos!
Toe gaan koop mev. Herrie ’n ketel vir die gasplate, en daai ketel fluit as die water kook.

Dit het Klein Herrie nie geweet nie, en hy maak toe tydens ’n buitebeurt-kragonderbreking koffie. Toe oom Herrie en mev. Herrie teug, toe is dit duidelik daai water het nooit gefluit nie.

Die gefluit-storie is toe aan Klein Herrie verduidelik, en van toe af kry die Herries “gefluite koffie” van die gasplaat af, en “ongefluite koffie” van die elektriese ketel as daar wel krag is.

Die afgelope klompie jare begin oom Herrie se dag vyfuur soggens nie meer met ‘n beker boeretroos nie, maar met ’n bloeddrukpilletjie. Maar kort hierna, wanneer oom Herrie begin werk, moet die koffie die nagspinnerakke begin verdryf. Dis altoos die grootste beker waarop oom Herrie soggens sy hande kan lê. In ’n stadium het oom Herrie ’n bierbeker (oom Herrie drink lankal nie meer bier nie) daarvoor ingespan, maar in die winter wou die koue glas en die warm (ongefluite) water nie saamwerk nie en is die koffie vreeslik gemors. Boonop was die bierbeker ook daarmee heen.

Maar oom Herrie se voorsate kom van ’n gebied waar koffie hoog aangeslaan word. Nie sommer hierdie poeier-sigorei wat koffie genoem word nie – regte, sterk koffie met moer en al. Soos hulle sê, as ’n man daai teelepel regop in die kommetjie lat staan, moet hy sta-a-arig na die kant toe kantel. So sterk moet hy wees.

In die ou dae was dit nie altoos te kry nie, en boer moes ‘n plan maak. So is vasgestel dat die witgatwortel nogal ‘n stewige konkoksie kan lewer, en so begin hulle regte koffie ook “gat” noem. So ‘n lang uitgerekte ga-a-at.
’n Man wat jonk daar uit die Namakwaland uitgetrek en in die Vrystaat gaan woon en getroud geraak het, besluit hy wil sy vrou sy geboortewêreld gaan wys. Hulle kuier by ’n neef op die stoep, en dis naderhand tyd vir koffie. Maar melk is skaars in daai wêreld en daarom word die koffie gewoonlik swart gedrink. Die Vrystaatse nooi drink nie koffie swart nie, en haar man let haar verleentheid op. Hy beduie vir sy neef, wat dadelik snap.

Seg hy vir sy vrou: “Mêtjie, lôh tsjarra da biekie bies vir die kjend se ga-a-at.”

In pragtige Namakwalands. Maar wat sy vrou gehoor het, weet mens nou nie, maar sy het geverseg om haar se bekkie aan daai kommetjie ga-a-at te sit. Miskien was sy ’n Vrystaatse plaasnooi waar bies nou nie heeltemal dieselfde as gewone melk beteken nie. Of dat ’n mens in fatsoenlike geselskap nou nie oor daai deel van ’n mens se anatomie praat waarop mens sit nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae