Oom Herrie se kerrie: Oom Herrie des familias

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se Kerrie. Foto: Argief.

Die afgelope week het oom Herrie begin wonder of die Afrikaanse woord, gesin, nog bestaan. Dit was na die hoeveelste raakloop van ’n geval waar iemand die woord “familie” gebruik het maar eintlik “gesin” bedoel het. En dit kan nogal saak maak.

Ja, oom Herrie weet die taalghoeroes het al ’n paar jaar gelede die handdoek ingewerp en verordineer dat “familie” as sinoniem vir “gesin” gebruik mag word, maar oom Herrie het darem gedink daarmee is verstaan die konteks moet die bedoeling duidelik maak. As die rugby-unie, om mense op die pawiljoen te kry, laat weet iemand kan sy “hele familie” saambring en vir net ’n R100 laat ingaan, dan kan dit lol as ‘n paar bekende families met busse opdaag en vir net R100 saam ’n pawiljoen volmaak. En die ou by die kaartjieskantoor kan maar blou in die gesig beduie die ringkoppe het eintlik “gesin” bedoel – hulle het tog die woord “familie” gesprak, en die oorspronklike betekenis het nié verval nie.

Nee, oom Herrie is nie gatvas oor die taal nie. Soos toe die taalghoeroes besluit het dat “snow” maar met “sneeu” vertaal kan word. Want voorheen was dit net “kapok” “Sneeu” se Engels was “sleet”, ‘n ysreën. Dis nou nie of Suid-Afrika ’n oorvloed van enigeen beleef dat dit vreeslik sou saak maak nie, en die toegewing het baie verwarring uitgeskakel.

Maar “gesinne” en “families” word agter elke bos uitgeskop, en verwarring kan groot wees. Dink maar wat sal gebeur as ’n terapeut “terapie vir die hele familie” aanbied, en daar hou ’n paar busvragte vol mense stil? Of “buste” soos oom Herrie gereeld uit ’n sekere deel van Bloemfontein hoor. Die terapeut het seker ook nie in gedagte ’n snaar sal met sy skoonma vir terapie opdaag nie.

Toe dink oom Herrie hy sal maar gaan oplet wat Latyn met die woord “familia” maak. Is Afrikaans of Engels reg? Maar dit help nie eintlik veel nie, want dit lyk of beide die kat half aan die stert beet het. “Familia” kan so iets tussenin beteken, en boonop was die betekenis daarvan nie altyd dieselfde nie. In ’n stadium was dit die hele huishouding – bediendes en slawe ingesluit, maar later net gesinslede. In ’n stadium was dit almal wat van een skynbaar lewende voorouer afstam, wat die titel pater famias baie belangrik gemaak het. Maar dan kom dit ook gemeenskappe, soos godsdiensgemeenskappe beteken, of almal wat op dieselfde landgoed woon.

Maar as “family” nou net so met “familie” vertaal kan word, wat dan van die ou begrip wat neefs en kleinniggies, ooms en tannies insluit? Tog asseblief nie die woord “relatiewe” gebruik nie. Ja, oom Herrie weet die Afrikaanse speltoetser erken reeds die woord, maar nie as “familie” nie. Nee, dis omdat daar ’n relatiewe verskil was tussen oom Herrie se toetspunte, en die toetspunte van die slimste ou in die klas. Al het die ou destyds ook van sy gesin as “familie” gepraat voor dit nog aanvaarbaar was.

Ja, die Afrikaanse speltoetser herken selfs die van van die Turkse president, Erdekan.

Wyle ouma Martjie was vreeslik familievas. Sy het selfs ’n ongeskrewe hiërargie gehad: sy was die gehegste aan almal wat deel van haar gesin, of eertydse gesinslede soos haar broers was. Dan het die breër familie gevolg, en dit het regtig wyd gesny. Oom Herrie moes so familiefeeste bywoon van families waarvan hy kwalik geweet het hy is familie, en is oral “aangebied” as sou hy omtrent die kroonprins van daai familie wees. By een geleentheid moes oom Herrie vir ouma Martjie na ’n begrafnis neem van iemand van wie se bestaan hy in lewe nie eens bewus was nie. Daar het ouma Martjie, met die verleë jonge Herrie, in die voorste familiegestoeltes plek ingeneem. Heelwat agtertoe het van die oorledene se kleinkinders gesit, en een van hulle was ’n klasmaat. Ons het nie geweet ons is familie nie, en nog minder dat die jonge Herrie nader familie van hul oupa was as hulself nie.

Die volgende kategorie in ouma Martjie se hiërargie was nou regtig verlangse familie. Dan het goeie vriende gevolg, dan kennisse, dan kwaaivriende, en dan die arme stieffamilie. Maar die ou mense het hul families geken. Menige maal het oom Herrie oopmond waargeneem hoe twee wildvreemde oues begin familie uitlê, en dan ook nie lank nie, of familiebande is vasgestel.

Wyle oupa Nic (oom Herrie se skoonpa) was ook erg familievas, en het nie ’n familiefees van die Naude’s, sy oorlede ma se mense misgeloop nie. Die Herries is knaend gepor om saam fees te kom hou, maar gelukkig was die Herries se oudste, Groot Herrie, net soos sy oupa en het die Herries verteenwoordig.

Ouma Engela, toe sy nog op die plaas was, het darem self lank bygehou met die etenstafel – al plek in die huis waar geëet is, en indien enigsins moontlik, saam geëet is. Soos die skoonseuns bygekom het, is die lang tafel net voller gesit. En moenie dink die dat toe die kleinkinders ook nog bykom, het ouma Engela se turf gesit nie. Nee, op die punt van die tafel was nog ’n blad wat kon uitskuif. Toe was daai tafel darem lank, en al meer en meer stoele is bloot om die tafel ingewerk sodat oom Herrie, wat bietjie breed van skouer is, regtig soos ‘n opgestopte wors begin voel het.

Maar so lank soos daai tafel geword het, so het oom Herrie begrip gekry vir die betekenis van iemand wat “verlangs” familie is, want sommige het maar verlangs van die ander gesit.

Dus groet oom Herrie maar met familie- en relatiewe groete tot wederom.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanno Visagie ·

Die Taalkommissie is besig met verdomming van standaard-Afrikaans en forseer taalpolities korrek al meer goggas in ons keelgate af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.