Oom Herrie se kerrie: Oom Herrie speel weer albasters

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oom Herrie het weer begin albasters speel. Nee, nie “oumens-marbles” (rolbal) nie – dis gans te gevaarlik.

Van die chemo en ander behandeling sukkel oom Herrie om weer normale lewe in sy voete te kry. Dis ’n sensasie wat baie moeilik is om te beskryf – dit voel dood, maar ’n mens voel als – soms in oortreffende trap soos as ’n orige brak op ’n mens se voet trap.

Ná harde dinkery het oom Herrie vir Mev. Herrie gevra om vir hom albasters te koop. Dit word in ’n roomysbak se deksel gegooi, en oom Herrie werk sy voete heen en weer oor daai albasters. Te lekker. Mev. Herrie het ook ’n paar superballetjies gekry om die plek van die ghoens in te neem, want dié rol so lekker onder die brug van die voet.

Dis nog te vroeg om te sê of dit gaan help, maar as mens ook nie iets probeer nie, sal niks ooit gebeur nie.

Van rolbal wat so gevaarlik kan wees gepraat. ’n Destydse kollega van oom Herrie was op Saldanha Kollege. Daar het ’n vriend verwoed rugby gespeel, en as oom Herrie reg onthou, selfs vir Boland uitgedraf.

Op ’n dag kry ’n vriend van die vriend bitterlik seer op die rugbyveld. Die vriend besluit net daar en dan rugby is gans te gevaarlik, en hy gaan rolbal speel voor hy ook so seer kry. Maar die eerste dag op die rolbalbaan glip daai bal uit sy hand en val op sy voet, en breek ’n hele klomp beentjies in die voet. Sommer so met die intrap kry hy toe baie seerder as wat hy ooit op die rugbyveld gekry het.

Oom Herrie het ook op die harde manier geleer iemand wat al oor basies enige sport verslag gedoen het, kan nie oor rolbal skryf nie. Oom Herrie het probeer, en mooi beduie van die verskillende gooie en hoe dit van ’n vinnige en ’n stadige baan afhang.

In krieket is ’n blad vinnig as die snelbouler se bal met spoed deurskiet paaltjiewagter toe, of soos oom Herrie self gesien het toe Alan Donald nog soos witblits was. Daai bal is van die rand van die kolf af, die paaltjiewagter duik en die bal is van die handskoenrand af, en klap agter teen die grens. Oom Herrie weet nie of ’n volle sekonde verloop het nie. Dit was net tik, tik, doef. Oom Herrie, wat van die kant af gekyk het, het daai bal nooit eens gesien nie.  Amper so vinnig soos Wayde van Niekerk.

Maar toe blyk dit in rolbal is ’n vinnige baan ’n stadige baan, want die gooier moet die bal stadig gooi. ’n Stadige baan is ’n vinnige baan, want die gooier moet laat wiel om die bal tot aan die oorkant te kry.

As kind was oom Herrie nooit ’n groot albasterspeler nie. Af en toe het die jonge Herrie ’n albaster iewers opgetel, en dan iewers gaan “saait” soek om saam te speel. Soms het oom Herrie ’n hele klomp albasters gewen voor alles weer verloor is. Omtrent soos perde speel.

Veral as ’n man ’n ghoen, of nog beter, ’n “irony” opgetel het, kon ’n mens suksesvol wees. Daai mooi outydse albasters is natuurlik nooit op die spel geplaas nie.

Albastertyd is afgewissel met toltyd, en later nog klimtoltyd. Ja, oom Herrie onthou nog die tranedal toe ’n knaap se splinternuwe stinkhouttol die eerste dag op die skoolterrein (ja, ’n kind se bas het gebrand as hy van skoolgronde sou durf praat) middeldeur gekloof is.

Maar nou, vir eers, speel oom Herrie net albasters. As die voete eendag reg is, sal dit seker gebêre word tot die kleinkinders groot genoeg is om nie meer albasters in te sluk nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Bloues ·

Herman, dit gee mos nou n idee. As die dag vol vergaderings is moet die plat gemaklike loopskoene mos plek maak vir daardie gepunte dwergie skoene. Na so n dag is hierdie boerklong se voete in spasma, Die albaste ding gaan werk. Baie dankie ek geniet jou skrywe elke week.

Ken ·

Ek het die week eers gehoor oom Harrie word deur Herman beskryf so van nou af is ek ook n gereelde leser!

Leendert van Oostrum ·

Laat weet of die albasterterapie werk.

En wat maak mens met die vingerpunte wat ook halfdood is?

Rupert Ashford ·

Sterkte met die voete en die res Oom Herrie. Lekker gelees…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.