Oom Herrie se kerrie: Paslike name

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Jare gelede kuier die Herries by mense wat voorheen in Namibië, destyds Suidwes, gekom het. Hulle het die ougatste katjie met die naam Gamoepie.

Die jonge Herrie wil weet waar dié naam vandaan kom.

Van ’n padpredikant af, blyk dit. Eenkant toe, het die padpredikant beduie, is Platbakkies, en anderkant toe Gamoep. En omdat die katjie so ’n plat bakkies het …

Nou die dag het oom Herrie self vir Gamoep en Platbakkies op ’n kaart van die Noord-Kaap gekry.

Intussen het baie water al in die see geloop. Ons oudste, Groot Herrie, het ’n oulike meisie in die Kaap, en hulle het ’n katjie met die naam John Deere. Want as die katjie spin, klink dit nes ’n John Deere.

Toe oom Herrie nog klein was, het Pa Jan ’n hondjie aangeskaf. Die dierasie was so mooi van lelikheid dat hy die naam Brolloks gekry het. Baie hartseer, toe Brolloks sy eerste kans kry om by die hekkie uit te glip, toe trap ’n kar hom. Die kleine Herrie vertel toe vir mense Pa het Brolloks geplant. Later wou Herrie by Pa weet of Brolloks nie nou al lank genoeg gestraf is dat Pa hom weer kan uitgraaf nie.

Soms raak byname vir mense so ingeburger dat min mense weet wat die persoon se regte naam is. Dink maar aan Mof Myburg en Mannetjies Roux.

’n Buitengewone groot slot wat provinsiale rugby gespeel het, het die bynaam Kuifie gehad. Nie juis gepas nie. Eendag plaas ’n koerant sy regte naam – Thysie.

Nie alle sportlui is ewe gediend met hul byname nie. Iewers aan die Rand was ’n speler wat uit beginsel almal wat hom op sy bynaam genoem het (oom Herrie kan nie onthou wat dit was nie), opgedons het. Selfs as hy in ’n wedstryd langs die kantlyn af nael om ’n drie te druk, en hy hoor die bynaam uit die pawiljoen, dan stop hy net daar, sit die bal neer, draf die pawiljoen in en gee die skuldige ’n paar warm klappe.

Veral die swart mense kan baie toepaslike name uitdeel. Toe oom Herrie met mev. Herrie die knoop deurhak, het haar plaasmense oom Herrie ’n naam gegee wat in Suid-Sotho “Die een wat sag praat” beteken. ’n Paar jaar later, by die werk, loop oom Herrie hom so teen korrupsie vas dat die personeel hom Moferefere noem – die een wat onluste maak.

Oom Herrie kan nie korrupsie verdra nie.

Soms gee ouers name aan kinders wat nou nie juis toepaslik genoem kan word nie. Een van oupa Nic se plaaswerkers se naam was Fluks. So fluks dat toe Fluks die dag aftree Oupa nie eintlik die verskil agtergekom het nie. Om ’n dogtertjie die naam Beauty te gee is eweneens baie riskant. Oom Herrie het darem al ’n paar gesien wat op grond van voorkoms kwalifiseer om in Zuma se kabinet opgeneem te word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Môre Oom Herrie. As kind was my bynaam op die plaas Rooinekkie omdat ek lief was vir tee en my hare bietjie hoog in die nek geknip is in die somer. My sussie se naam was Gatjieponder. Dit was mos afgelei van die destydse kerkraad met die manelpakke, of dan pikkewynpakke. Gesond word en groete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.