Oom Herrie se kerrie: Plekkie by die see

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

In die toekoms, so lyk dit vir oom Herrie, hoef iemand wat ’n plekkie by die see soek nie sy kop te breek oor die vreeslike pryse nie. Nee, hy kan dalk ’n plekkie teen ’n winskoop iewers in die Karoo losslaan, mits hy natuurlik bereid is om ’n rukkie te wag voor die see oor ’n paar jaar daarnatoe opgestoot kom.

Oom Herrie dink dié versiendheid kan nogal handig wees – dink net hoeveel stranderwe kan uit ’n Karooplaas gesny word en ten duurste verkwansel word wanneer die see kom.

Maar voor die see nie duidelik begin styg nie, sal die arme persoon, versiendheid ten spyt, seker baie spot moet verduur. Soos oorle’ Noag seker ook moes verduur terwyl hy sy ark hoog en droog gebou het.

Dié keer is dit wetenskaplikes wat waarsku oor die komende moeilikheid. Nasa, wat gewoonlik met sy kop in die ruimte staan, kyk egter ook van daar na die aarde terug en sien die gevare. Nasa self is in die knyp, met die helfte van sy geriewe wat laer as 5 meter bo seevlak is. Wetenskaplikes meen die seevlak kan met 20 meter styg as die ys op Groenland smelt.

En dis lank nie al ys wat kan smelt nie.

Maar maak nie saak hoe oom Herrie sommetjies maak nie, die kanse lyk skraal dat sy eie huis in Bloemfontein ’n strandhuis sal kan word. Behalwe natuurlik as die strand ’n paar honderd kilometer wyd is.

Een van die eerste dinge wat oom Herrie doen wanneer hy soggens die rekenaar aansit om te begin werk, is om na die USGS se kaart van jongste aardbewings te gaan. As die kolletjie rooi is, was die aardbewing die afgelope uur, en hoe groter die kol, hoe sterker was die aardbewing. So het oom Herrie vroeër vanjaar die aardbewing in Nepal “gesien” omtrent net toe dit gebeur het, en kon deur logika aflei dat bitter baie mense daar moes omgekom het.

Ook met ander grotes was oom Herrie al die eerste wat ’n berig oor ’n aardbewing kon uitkry.

Maar gaan oom Herrie eendag onder die eerstes wees wanneer die grote Los Angeles of San Francisco tref? Gaan die USGS se stelsel dan nog werk? Met Storm Sandy se trefslag van New York was die stelsels immers ’n hele ruk “van die lug af”.

Om ’n scoop (vuurwarm nuusdeurbraak) te kry is ’n gelukskoot vir die verslaggewer (nie die slagoffers nie). Maar hoe harder ’n mens werk vir ’n scoop, hoe meer gereeld is die geluk aan ’n mens se kant.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae