Oom Herrie se kerrie: Politiek amper soos in ou dae

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oom Herrie is nou nie juis een vir die politiek nie, maar as die politiek nou weer so warm gaan word soos in die goeie ou dae toe die Natte en Sappe mekaar so reggesien het, of in die dae toe die Natte die “Herzogiete” se vergaderings gaan opbreek het, dan mag oom Herrie dalk weer beginne belangstel.

Maar vreemd, die withemde se verwydering van die EFF (al weer) uit die parlement laat oom Herrie glad nie aan die politiek dink nie, maar aan die kerk.
Nee regtig.

Mev. Dominee het met haar krosie heel voor in die kerk gesit. Die oudste, en al amper in die skool, kry die dag nie sy sit nie – die ene rooimiere.

Ma sis en dreig, maar knapie vroetel, en toe hy kleinsus langs hom ’n stewige knyp net bo die knie gee, is dit sulke tyd.

Mev. Dominee het die woelwater aan die hand, en begin aanstryk na die deur toe. Maar die knaap is nie dom nie en weet wat wag buite, dus klou hy verbete aan die kerkbank, maar sy ma is so kwaad, sy ruk hom los. Maar toe is daar ʼn volgende ry banke, en hy kry weer ’n ystergreep. Ma pluk hom los, maar weer net tot die volgende bank. En so vorder dit moeisaam na die deur toe, en met elke losskud is mev. Dominee se foetermeter dieper in die rooi. Uiteindelik het sy die knaap van die laaste ry banke losgeskud gekry, en sy sleep hom deur toe.

Net voor die benoude knaap by die deur uit is, roep hy in ’n luide stem na die gemeente: “Bid vir my!”

Vir die withemde se onthalwe, hoop oom Herrie nie Malema en sy mense gaan neem nou kung-fu-lessie nie. Met sulke lywe moet hulle dalk Sumo-stoei oorweeg (terwyl hulle in elk geval dreig om kaalbas parlement toe te kom), dan gooi hulle volgende keer die withemde lag-lag uit.

Onse parlement is lank nie die enigste waar die agbare lede ander agbare lede so hard moker dat hulle op hul agbare blakers beland nie. Kyk, as daai lotjie in Taiwan aanmekaar spring, is dit erg. Hulle is nou nie so rond en gesond en lomp soos die EFF nie. Nee, dié lotjie is sommer flink oor die banke, en dis karate, judo, kung fu en wat nog alles. Te aardig.

Oekraïne se parlementslede klop ons s’n nog met ’n kortkop vir die meeste vuisgevegte per jaar. Hulle is miskien nie vaardig soos die Taiwannese nie, maar hulle is kwater vir mekaar. Danksy jarelange Sowjet-isolasie en -propaganda is dit nog steeds die aanhangers van Hitler en Stalin wat mekaar so moker.

En dis nie net die politiek wat lelik kan raak nie. Na ’n sokkerwedstryd het twee Sentraal-Amerikaanse piesangrepublieke mekaar gegryp en 100 dae lank oorlog gemaak.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.