Oom Herrie se kerrie: Resies met ’n spook

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Om by hierdie verwerkte storie uit die hart van die Vrystaat uit te kom, moet ’n mens eers agtergrond gee. Elmarie Erasmus-Fischer, op wie se storie dit gegrond is, sal haar storie dus skaars herken, maar so kan dit darem steeds met haar eie Godgegewe skryftalent verewig word.

Dis Oujaarsaand hier teen die einde van die groot oorlog teen Duitsland, en die opskop is oudergewoonte op oom Koos en tannie Rita se plaas Platboom in die distrik Theunissen. Daar is ’n orkes ook, met oom Frans Viljee wat die pensklavier laat huppel-gesels. Eintlik ’n Duitse akkordeon, maar ter wille van die Sap-gaste wat so ’n onlekkerte oor die Duitsers het, het oom Koos die Nat-gaste versoek om maar te hou by die naam pensklavier. Die donkielong is deur oom Klaas Boplaas bespeel, en hy kon die note behoorlik laat huil. Verder het ’n paar jong manne beurte gemaak met die kitaar, banjo en ukelele.

Hier en daar was dit ’n behoorlike blye weersiens, soos oom Kerneels en tannie Rina met hul dogter Sanet wat vir die eerste keer in twee jaar kom oë wys het.

Nee, geen kwade gevoelens nie, net ter wille van Sanet se opvoeding. Want kleintyd het sy gesukkel om ’n “k” te sê en ’n “d” in die plek daarvan ingespan. Oom Koos was dus oom #oos, en haar ouers wou haar nie hieraan blootstel nie. Naderhand het dit al beter gegaan, maar sy het deurmekaar geraak. Soos toe sy ontsteld by haar ma kom aanmeld het ’n buurman wat kom help het om ’n trekker-koppelaar reg te maak, het hom aan sy woordeskat vergryp: “Toe sê oom Jaddie die konderse ding maak hom nou die konder in.”

Nou was sy oor die probleem en kon veilig in oom Koos se geselskap losgelaat word.

By die opskop gaan dit jolig. Wanneer die orkes blaaskans vat en self bietjie wil skoffel, word die ghrêmmiefoun ingespan. Eintlik is dit ’n radiogram, maar die radio met sy kortgolf is omtrent net ingespan vir verkiesingsuitslae luister en wanneer die Springbokke speel.

Kleinpiet Schutte en sy kleinboet Fanie se ouers het vroegerig huis toe verkas. Die oom se hart is nie lekker nie. Maar die twee jonges het gepleit om te bly, want albei het al rooierige hakskene en om middernag word daar soene uitgedeel. Hulle sou in die halfmaan se lig voetslaan terug plaas toe.

Alles gaan goed tot hulle amper by die huis is. Skielik kraak ’n paar takke hier neffens hulle, en ’n wit gedaante wat ’n ent bokant die grond sweef, kom te voorskyn. Die twee jong manne het nie weggetrek nie – hulle was sommer klaar op volspoed. Maar die wit gedaante hou by.

Toe trap Kleinpiet in ’n springhaasgat en slaat neer, heeltemal disnis. Fanie maak dit heelhuids tot by die opstal en gil dit uit dat ’n spook vir Kleinpiet gevang het.

Pa en ma, met stormlanterns gewapen, gaan saam met die bewende Fanie kyk wat aangaan. Hulle tref die wit hanskalf met die swart bene aan waar hy Kleinpiet probeer bybring deur hom liefderik te lek. Dit was Kleinpiet en Fanie se werk om die kalf elke dag melk te gee, en hulle was groot vriende. Die kalf was dus baie bly dat sy twee maters onverwags kom kuier het en toe nog wou speel ook.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae