Oom Herrie se kerrie: Rooi verkeersligte

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Oom Herrie hoor deesdae al meer van Suid-Afrikaners, en veral Bloemfonteiners, wat so deur die rooi verkeersligte jaag. En van die gevolge daarvan.

Selfs nou die dag met die krieketuitsendings vra hulle ’n Nieu-Seelandse krieketkommentator wat sy indrukke van Suid-Afrika was. So ter afsluiting meld hy dat die Suid-Afrikaners se ryery teen rooi verkeersligte deur hom sal bybly.

En in Bloemfontein se geval is dit lank nie meer ’n geval van motoriste wat lekker gemaklik in strate met gesinchroniseerde verkeersligte afry, en dan skielik, slaat een vlak in ’n mens se gesig oranje en rooi nie. Al manier om nie aan te ry nie, is om met skreeuende bande stil te hou.

Ja, daar was selfs ’n hofsaak waarin ʼn motoris vrygespreek is nadat hy bewys het ’n spesifieke verkeerslig in Bloemfontein was gesinchroniseer om rooi vir aankomende motoriste te slaan. ’n Motorfietsryer het die aand by mense gekuier, en toe hy ry, ry hy ’n ent daarvandaan, en binne sig van die mense wat hom gaan afsien het, teen ’n motor in die oorgang vas. Die motorfietsryer is dood. Sy vriende wat hom gaan afsien het, getuig almal die verkeerslig was groen vir die motorfietsryer, en nee, die motorfietsryer het ook mooi besadig die straat afgery.

Die motoris word van strafbare manslag aangekla. Toe dit sy beurt is om sy saak te stel ruk hy rekenaaruitdrukke van die misipale uit wat duidelik wys daai verkeerslig is gesinchroniseer om rooi te wees vir aankomende verkeer wat die vorige verkeerslig groen gekry het, tensy die padgebruiker taamlik ver oor die spoedgrens jaag. Hy is onskuldig bevind.

Maar oom Herrie weet hoekom Bloemfonteiners so deur die rooi verkeersligte ry. Eendag kry ’n man ʼn geleentheid saam met Koos. By elke rooi verkeerslig jaag Koos oor. Die passasier kla, maar Koos sê net hy moenie wharrie nie, sy broer Frans doen dit al jare lank en het nog nooit iets oorgekom nie.

Koos jaag weer rustig op ʼn rooi verkeerslig af, toe dit skielik groen slaan. Koos slaan verwoed ankers aan en die passasier sit omtrent soos ’n rotstekening teen die voorruit.

“Ag nee, Koos!” raas hy, “jy jaag deur die een rooi verkeerslig ná die ander, en nou stop jy!”

“Ja, maar ek weet nooit wanneer my broer Frans van daai kant af kom nie!”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Herman, jy weet baie goed, oor rooi ligte ry is die minste van die slegte gewoontetjies van Bloemfonteiners. Kom wees nou eerlik, en vertel ons verder… Ons wag op Deel II…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.