Oom Herrie se Kerrie: Selfs die diereryk weet meer van demokrasie

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Navorsing, so sien oom Herrie, toon dat bobbejaan ’n heel goeie begrip van demokrasie het. Binne die tropverband met allerlei dinge, laat die meerderheid, die wyfies, die alfa-mannetjie min of meer ongehinderd toe om sy lyf rond te gooi en hulle selfs af te knou. So word verseker dat Nommer 1 hulle teen eksterne gevare beskerm.

Maar kom dit by besluite oor in watter rigting die trop moet trek, geld die meerderheidswil. Nommer 1 en sy kornuite kan maar in ’n rigting begin koers inslaan, maar as die meerderheid, die wyfies, nie saamstem nie, moet die spulletjie maar druipstert omdraai en by die trekkende trop gaan inval.

Selfs buffels, sê die navorsers, verstaan meer van demokrasie as die mense in ’n sekere land wat oom Herrie nou nie by name sal noem nie. Die buffels stem met hul neuse, deur dit in die rigting te draai waarin hulle wil beweeg. Die verslag meld nou nie wie die neuse tel om te kyk watter lot die meerderheid uitmaak nie.

Hoe het die digter nou weer gesê?: “Luiaard, kyk na die bobbejane en word wys,” … of so iets…

Wat onse eie sirkus, ekskuus, parlement betref, stel oom Herrie voor die parlement huur vir Kuifie (Tintin) as hoof van orde. Kyk, Kuifie kan ’n behoorlike mokerhou slaan. Kuifie is steeds enorm gewild – in België het ’n veiling van ou Kuifie-boeke pas meer as ’n miljoen rand opgelewer. Vir een boek het die nuwe eienaar net minder as R100 000 opgedok. Hou dus maar vas aan die ou Trompieboeke. Hulle dag sal nog kom.

Oom Herrie lees dat wetenskaplikes in Amerika daarin geslaag het om ’n koue te skep net ’n halwe aks van die koudste moontlike temperatuur af is. Die koudste wat dit kan word, sê hulle, is minus 273,15 gade celsius. Dis ‘n miljoen keer kouer as die ruimte tussen sterre, en maklik drie keer kouer as Sutherland in die winter. Oom Herrie wil nou nie daarop aanspraak maak dat iemand wat in die Vrystaatse winterkoue nagsweet kry, en dan gou moet opstaan om die hond uit te laat, omtrent ’n idee het van hoe koud so iets moet wees nie. Maar al wat oom Herrie weet is dat as daai sopnat pajamas so in ’n ommesientjie soos ysplate begin voel, is dit baie, baie koud en nog nat ook.

Maar natgesweet of nie, as ’n mens in die nag moet opstaan om die warmkraan ’n slag deur te laat loop om te keer dat die pype ys, en bars, is dit bitter koud. En al het ons nog net ’n paar koue fronte gehad, ’n loodgieter sê vir oom Herrie hy moes al klaar ’n klomp pype gaan regmaak.

En al het die son nou vir midwinter gedraai, die eintlike koue sleep maar so met tyd agterna sodat die groot koue mos nog voorlê.

Bibbergroete uit die Vrystaat.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.