Oom Herrie se kerrie: Skoutyd is reëntyd

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Jare lank kon dit maar hoe droog wees, maar as dit tyd vir Bloemfontein se skou is, dan reën dit.

Toe word die skou tot laat April verskuif – so op die winter se voorstoep, en dan kan dit tydens ʼn koue front erg geniepsig word.

Maar vroeër jare, toe die skou nog met die geelperskereën saamgeval het, is ’n klomp veteraantrekkers en hul implemente by die skou uitgestal. Onder die trekkers was die vermaarde Vaaljapie, met sy kenmerkende doef-doef en kanniedood-enjin.

Met dié dat dit nou so goed gereën het, besluit die eienaar om sommer te demonstreer hoe so ’n Vaaljapie nog kan ploeg. So ’n ent gaan dit voor die wind, maar toe haak die ploeg een van daai kragkabels wat net-net nie diep genoeg begraaf was nie. Maar die Vaaljapie loop, al staan hy op een plek en skrop. Geleidelik begin die trekker homself in die modder in grawe, en net betyds dros die drywer voor die sitplek ook onder die modder wegsak. Naderhand steek nog net die skoorsteen uit, maar dié is na ’n ruk ook al doef-doeffende onder die modder in.

Nog ’n ruk hoor die verdwaasde omstanders ’n doef-doef van doer onder af, toe is dit ook stil.

“Sal hom maar aanstaande jaar kom loop uitgrawe” sê die eienaar gelate.

Maar die volgende jaar, toe die manne wil-wil beginne grawe agter die makeerde Vaaljapie aan, hoor hulle die bekende doef-doef daar van onder die grond uit. Verbaas staan hulle ’n ruk, en nie lank nie, breek die trekkertjie se wiele steeds draaiend onder die grond uit. Met die ploeg wat gehaak het, het die trekker toe ’n volle sirkel doer onder die grond loop maak en wiele na bo anderkant uitgekom.

Die Herries “doen” ook twee verskillende gemeentes van verskillende kerkverbande se nuusbriewe. Die een gemeente het jaarliks hier op die voorstoep van die winter ’n sweetpakkieprojek om die winter meer draaglik vir minderbevoorregtes te maak. Dis pas weer aangekondig.

Maar een jaar het die dominee se vinger geglip, en hy maak die “p” van die sweetpakkies ook ’n “k”. Gelukkig is mev. Herrie ʼn yster met die proeflees, en sien die glips raak. Maar elke jaar verskaf die aankondiging weer groot binnepret.

Oom Herrie se een oog staan mos so half na die sterre toe. So lees oom Herrie dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (ja, daar bestaan regtig so iets) beplan om hul amptelike tale te beperk tot Engels, Zoeloe en Pedi. Nou wonder oom Herrie so half oor die geleerde mense se geleerdheid. Duidelik het hulle nog nie Langenhoven se Loeloeraai gelees nie. Want dan sou hulle geweet het dat die vreeslike gevorderde man van Venus so opgetrek met Afrikaans was, dat hy dit as enigste taal op Venus loop invoer het.

Duidelik het die Suid-Afrikaanse ruimtemanne ook nie die reeks Alf gekyk nie – daai harige, vrypostige ruimtewese wat in ’n gesin se erf ’n noodlanding kom doen het, en vlot Afrikaans gepraat het.

Arme ET. In plaas van dat hy in ’n Afrikaanse omgewing verlore geraak het, beland hy tussen ’n klomp Yanks, en moes hy eers Engels aanleer om te beduie hy wil “phone home.”

Dus op ’n oorwig van waarskynlikhede is Afrikaans en Klingon die twee groot tale in die buitenste ruimte, maar hier in die Afrikaanse hartland word ons van die buiteruimtelike gemeenskap geïsoleer. Nee kyk!

Laat oom Herrie dink aan die Overbergse gesin wat almal die bynaam “Stg*ntemmer” gekry het. So ’n paar geslagte verderaan het die naam steeds bly kleef, en iemand doen toe navorsing oor waar dit vandaan kom. Dit blyk toe ’n voorsaat, half lief vir Engels, het ook in die hoër dinge belang gestel. Hy skaf toe vir hom ’n teleskoop aan en bekyk die ruimte. So kry hy die bynaam van sê maar Peter Astronomer. Maar in die plaaslike Afgikaneggemeenskap val die “Astronomer” half vreemd op die oor en word toe “Stg*ntemmer.” Ai.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.