Oom Herrie se kerrie: Sodadrankies

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

As Oom Herrie aan soda dink, dink hy aan die drankie wat van die manne wat so lief vir ʼn Skotse stookdrankie is, by hul vuurwater gooi.

Vir die Yanks is “soda” eintlik enige gaskoeldrank.

Oom Herrie is ook nou al ʼn hele ruk op soda. Met die chemo vir die een kanker het die susters die raad gegee dat Oom Herrie gereeld sy mond met koeksoda uitspoel om te voorkom dat seertjies vorm. By geleentheid het Oom Herrie slap getrek met die soda en was behoorlik dikbek (van die sere).

Nou, met die bestraling, is Oom Herrie weer op ’n ander soda – sitroensoda. Dis nou om te probeer keer dat Oom Herrie so knaend die kamer moet verlaat. Ja, Oom Herrie is nou werklik ’n P*sbiteriaan.

En hoor, Oom Herrie het geleer om nie boererate vlak te kyk nie. Soos om voor die chemo ’n Bar One te eet om naarheid te keer. Om doodseker te maak het Oom Herrie die aand voor die tyd al ’n Bar One geëet, kort voor die chemo weer een, en ’n ruk later nog een. Oom Herrie is ’n sjokokolis.

En van Oom Herrie die boereraat begin het van ’n Grandpa opgelos in wit kamferroom om aan die vreemd voelende voete te smeer, loop oom Herrie ook al heelwat beter. Die vreemde gevoelens, die sleureffek van die chemo is nog nie heeltemal weg nie, maar Oom Herrie slaap nou weer lekker.

As dit net nie was dat Oom Herrie nou ’n P*sbiteriaan was wat gereeld moet opstaan nie… En ja, dis ook nie sleg om op die hospitaal se parkeerterrein ’n geleentheid met Frans se Ferrari te kry nie, want parkeerplek is skaars en dikwels baie ver van die hospitaalingang af. Frans se “Ferrari” is ’n elektriese gholfkarretjie waarmee hy veral ou mense wat moeilik loop van die parkeerterrein na die ingang pendel.

Op die oomblik is die bestraling self nog net ’n vulletjie teen parkering kry, maar dis weer net ’n vulletjie teen Oom Herrie se gespook met daai parkeeroutomate. Ja, Oom Herrie hou nie van hulle nie, maar hulle hou beslis ook nie van Oom Herrie nie.

Met die uitgaan gaan Oom Herrie op een van drie plekke moeilikheid hê: Die outomaat gaan Oom Herrie se kaartjie nie wil lees nie, en as iemand kom help het, wil dit nie die geld vat nie. Weer moet iemand kom help. En dan by die hek sal daai betaalde kaartjie nie ’n tiekie die hek oopmaak nie – tot iemand kom help.

’n Derde van die bestralings (en dus gesukkel met die parkeeroutomaat) is darem nou al agter die rug.

Maar die oorheersende gevoel wat Oom Herrie beleef vandat hy gehoor het dat hy twee soorte kanker het, is een van ontsettende meelewing van oral. Daar is voortdurend wense van beterskap en ondernemings van gebede. Dis te wonderlik.

Oom Herrie was ook opnuut beïndruk oor hoe ’n sterk vrou – in elke opsig – mev. Herrie is. Dis nie net geestelik en fisiek byhou met oral waar Oom Herrie vir lang tye nie sy kant kon bring nie, maar ook met praktiese goed. Oom Herrie het al heelwat krag in sy bolyf herwin, maar Sondag kon hy steeds nie die Marmite-flessie oopkry nie. Mev. Herrie doen dit toe sommer maklik.

Oom Herrie is met groot dankbaarheid vervul.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rupert Ashford ·

Sterkte Oom Herrie. Kanker is nie kinderspeletjies nie – beterskap!! Die Grandpa in Kanferroom is ‘n nuwe een – wonder hoe mense aan die goed kom.

Johann ·

Herman, eek hhet nou wraggies só lekker gelag vir jou P*isbiteriaanskap, dat ek amper ‘n draai moes gaan loop! Ek sien elke Maandag uit na jou pittighede – dit is kostelik en kosbaar! Dankie dat jy nog kans sien om ons te laat lag terwyl jy so siek is. Ons waardeer die opoffering. Mag jy spoedig herstel van al daardie aaklige newe-effekte van die chemo. Daarna is die pad van volle herstel oop vir jou en ander kankerpasiënte. Sterkte en ons dra jou werklik op aan Hom in ons gebede. Groete.

neelsie ·

Oom,
Daars niks wat rooipeper klop nie.
Een teelepel 3x p dag…….. werk vir alles!!
Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.