Oom Herrie se kerrie: Terug op die emmerstelsel

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oorlede Ouma Joey se lampetbeker en emmer wat al lankal as ornamente in die Herries se gastebadkamer onder ’n tafeltjie met ‘n wasblad staan, is skielik weer in gebruik. Gelukkig nog nie die bypassende waskommetjie en koos nie.

Want sien, die Herries woon in Bloemfontein waar streng waterbeperkings geld. Die tuine mag net elke tweede dag met ’n emmer natgegooi word en die motor net een keer per maand gewas word – ook uit ’n emmer. En Sondae by die kerk staan die kar, so smaak dit oom Herrie, juis onder die tsjortsboom.

Nou dra die Herries badwater uit om darem die tuin so ’n hupstoot te gee. Die moderne plastiese emmers skeur gewoonlik onder hierdie soort gewig en daarom is oom Herrie baie bly oor ouma Joey se ordentlike gereedskap.

Nou ja, as dit nie vir die bose apartheidsregering se versiendheid was nie, het oom Herrie nou seker saam met al die ander Bloemfonteiners weer longdropgate in die agterplaas moes grawe vir wanneer die damme heeltemal leegloop. Maar gelukkig is daar nou weer water uit die Lesotho-Hoogland-oordragskema op pad.

En daar sal wel die een of ander tyd ’n seëning van Bo kom – as ons almal net mooi wil saamstaan en nie geloof sonder geloofsdade predik nie.

Ja nee, wat het die land voor die emmerstelsel gehad? Skoon water in pype na baie huise. Wat het Suid-Afrika voor kerse gehad? Elektrisiteit. Wat het Suid-Afrika voor grondpaaie gehad? Teerpaaie.

Seker die laaste plek waar ’n mens blymoedigheid verwag, is in die chemokamer waar mense vir kanker behandel word. Oom Herrie had sy tweede sessie daar en was nog meer verstom as die eerste keer oor hoe aangenaam die mense daar is. Hulle gesels met mekaar, stel regtig belang, praat mekaar moed in, maar dié keer was daar geen teken van swaarmoedigheid, vrees of ongelukkigheid nie.

En nie almal se prognose is goed nie.

’n Paar keer maak die twee siekstes en ’n jong ma hul drups bymekaar en hang dit aan mobiele drupstokke. Dan maak hulle ’n treintjie na buite om te gaan dampies maak – ’n hele vrolike prosessie. Oom Herrie is so dankbaar hy het nog nooit begin rook nie en ook maar wyd van die voggies met ’n skop gestaan.

Behalwe natuurlik kleintyd by De Bakke, waar ons nog soggens uit lampetbekers en waskomme moes was en ’n hele ent na die longdrops moes stap. Daar by De Bakke het ouma en tannie Essie die heerlikste bottels gemmerbier gemaak wat in sulke groot glaskanne gestaan het met die vetgeswelde rosyntjies bo-op. Van dag een af is gerantsoeneer, maar hoe langer die vakansie geduur het, hoe meer is dit vir die kleingoed gerantsoeneer. Want teen die einde het omtrent net ’n bekkievol die vakansie sommer bykomende kleur gegee van al die gistyd.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae