Oom Herrie se kerrie: Tirannie van die kommentaarskrywers

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Met die onlangse Aprilgekstories het oom Herrie opnuut onder die indruk gekom van hoe vernietigend die leserskommentare op joernalistieke produkte kan wees.

Bygesê, daar is baie Afrikaanssprekendes wat die stories geniet het, en ook ruiterlik erken dat hulle lekker “gevang” is. Die negatiewe kommentaar is gelukkig ook nie oral aanwesig nie, soos die “berig” van oom Herrie oor die diertjie wat op Mars ontdek is, en op Sterre en Planete se Facebookblad geplaas is.

Maar daar is berigte en artikels oor sekere onderwerpe wat niks met Aprilgek te make het nie, waar lesers baie ernstig ander teregwys en in die proses dikwels ernstige gekke van hulself maak. Is daar ’n berig oor ’n aardbewing elders in die wêreld, sal ’n leser heel waarskynlik katterig reageer omdat daar nie na die Richterskaal verwys is nie. En weer eens moet verduidelik word Suid-Afrika is een van die min lande wat die Richterskaal gebruik, en ’n aangepaste een daarby, en dat dit gewoon onmoontlik is om aardbewings elders in Richterskaal uit te druk. Dis ook nie omrekenbaar soos geldeenhede nie.

Maar hoe gebeur dit dat iemand wat nie die regte feite het nie, so met stelligheid ander gaan teregwys?

Dis maar ’n vulletjie. Word daar ’n berig of artikel geplaas wat maar net vaagweg met evolusie te make het – al word ter wille van die vrede ’n ander woord soos “ontwikkeling” ingespan, dan trek die sluise van die hel behoorlik oop. Sommer maklik word geskryf wetenskaplikes is nie Christene nie. Oom Herrie ken baie wetenskaplikes wat pragtige Christenmense is.

Maar dis nie net die verbod op veroordeling wat in die slag bly nie. Oom Herrie het dit ook al ’n keer raakgeloop dat iemand hom as so ’n verhewe Christen beskou dat hy sommer “namens die Here bedrog mag pleeg”. Dit het geblyk dat ’n “klomp kommentaarskrywers” wat mekaar ondersteun het, van dieselfde IP-adres af geskryf het. Een en dieselfde persoon wat sy lyf gaan Legio hou het.

Hoe laag kan ’n mens daal?

Oor sommige onderwerpe kan ’n arme joernalis byna nie waag om te skryf nie, of hy loop deur onder massas “inligting” wat van samesweringswebwerwe af gekry is. Dis ontsettend hartseer om te sien watter bog mense nie net bereid is om te glo nie, maar verbete sal gaan verdedig.

Maar so word die joernalis wat bereid is om hard te werk gereeld in die kommentaarkolomme geslag. En dan, as die kommentaar verwyder word, die bitterbekreaksie van die vitrioelskrywer. Mag hy dan nie die waarheid skryf nie?

Lekker geskut agter anonimiteit kan te lekker gal gesaai word.

Dit laat oom Herrie terugdink toe plaaslyne nog algemeen was. Op ’n bepaalde lyn was die boere en hul gesinne naderhand al erg moeilik oor ’n spesifieke tante wat so ingeluister het (haar keffende hondjies het haar weggegee), dat hulle besluit het om haar ’n ordentlike les te leer.

Soos afgespreek, bel twee boere mekaar en gesels oor koeitjies en kalfies. Nie lank nie, hoor hulle die keffende brakkies.

“Het jy gehoor ta’ Sannie het nou so ’n ryk kêrel?” wil die een by die ander weet. Hy wou nog die storie aandik, toe ontplof die tante: “Maar dit lieg jy nou, Martiens!”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Carol ·

Liewe oom Herrie,
So gepraat van laag daal………………skinder bly skinder, al doen jy dit anoniem ☺

Dawie ·

Ek stem heeltemaal saam. Ongelukkig het die standaard van joernalistiek die afgelope paar jaar so verswak dat indien ‘n mens kan kommentaar lewer oor die gebrek aan feite, inligting en dan ook sommige rubriekskrywers se blatante verdraaide liegstories dan doen jy dit. Dit is veral van die engelse webtuistes wat skuldiges is. Alhoewel toe News24 nog kommentaar toegelaat het, het ‘n mens dit eintlik gelees vir die vermaak en nie nuus waarde nie. ‘n Behoorlike debat wat gevoer word oor ‘n artikel kan baie positief ervaar word.
Internet trolle sal altyd met ons wees en skrywers moet darem nie alles persoonlik opneem nie. Kommentaar wat ek al gelewer het is ook al verwyder en ek aanvaar dit in die gees waarin dit gedoen is en sal nie daaroor kerm nie. Daar moet ook aanvaar word dat in berigte oor godsdiens, evolusie en politiek almal wat nie saamstem nie hul eie weergawe van wat hulle dink reg is gaan plaas.
Ek geniet jou rubrieke en hoop ons kan nog lank saamlees. Sterke op die pad vorentoe.

Theuns ·

Herman ek geniet jou in diepte kommentaar. Doen so voort! Ek se altyd vir my my vrinne as jy n man se karakter wil bepaal luister wat uit sy mond uitvloei. Dit is soms verbasend oor hoe oningelig mense is. Ek maak ook foute en van my kommentaar word ook afgeskiet. As ek later dink wat ek gese het dan besef ek ek moes dit nooit gese het nie!! Maroela julle is ook tops met julle beheer maatreels en hou feitlik baie kommentators uit die moeilikheid uit deur nie kommentaar te plaas nie! DANKIE.

Johann Marx ·

“Kommin”-tare is van uiterste belang om te sien WAT mense glo, en waarheen hulle neig. Dis ‘n absolute klankbord wat NIE onbenut gelos moet word nie. Uit al die reaksie kan ‘n mens duidelik groepe mense se opvoeding, lewens-uitkyk en intelligensie raaksien. Selfs hier op Maroela Media….wat hulle uiterste bes doen om die Afrikaanssprekendes ingelig te hou oor sake van nasionale belang, gebeur daar die onverklaarbare: NIEMAND kom met enige voorstel vorendag oor HOE die Afrikaner sy toekoms gaan bepaal nie…..want 90% van alle reaksie sluit die volgende in: “Iemand sal iets moet doen…” “Dit kan nie so aangaan nie..” “God moet nou ingryp..” “Kom ons bid….” “Wie sal vir ons opstaan?…” “Hoe lank gaan alles nog so aangaan?…” In 40 jaar van Nasionale Party leierskap het die Afrikaners lamsakkig verval tot ‘n “Ja, oom PW, Nee, oom PW” en later “Ja, oom FW, Nee, oom FW” wat NIKS bevraagteken het nie, en nie weet HOE om hulleself te handhaaf in die warboel van reënboog nasie nie. Eerder as om ‘n gesamentlike front te vorm, en leierskap uit te wys en te ondersteun…..baklei ons onder mekaar…terwyl die vyand smalend toekyk. Dis tragies.

Henry ·

Rubriekskrywers en joernaliste is natuurlik nie bo kritiek verhewe nie. Dat dit soms in afbrekende formaat aangebied word, is ongelukkig waar.
Ek dink egter dat Maroela na die kleinserige kant toe neig. Ek sluit glad nie beledigende, kru, lasterlike ens taal hierby in nie.
Ek deel veel eerder Langenhoven se siening dat kleinserigheid dikwels ‘n teken van seer kleinigheid is.
Wanneer ‘n siel sy naam toffie maak, of dit ‘n rubriekskrywer, skrywer, joernalis of ‘n kommin kommentator soos ekself is – gee die siel geleentheid om dit te doen!!!
Om dit aan die helder lig van die dag bloot te stel, sal veel eerder van nut wees as om dit te verwyder. Deur die plasing van die betrokkene se “pennevrug”, kan ‘n les of meer geleer word om volgende keer nie sulke ondeurdagte en growwe kommentare te lewer nie.

George ·

Baie maklike oplossing vir al die kommin-tators; laat almal toe om kommentaar te lewer, onder sy eie, regte naam. Dit sal die mense tweekeer laat dink of hy sy kommentaar gaan pos of nie. Wanneer die meeste mense in die kollig beland raak hulle baie versigtig. Dit behoort ook die meeste trolle onder die brug te hou.

Bloues ·

Oom Herrie. Partymaal is dit n geval van “antwoord die sot nie op sy sotheid nie” Maar jy inteendee, na jou skrywes en stories en rubrieke sal die meestevan ons, altyd na uitsien.
Doen so voort!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.