Oom Herrie se kerrie: Toe Afrikaans Afrikaans was, en rugby(kyk) nog rugby(kyk)

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Dit grief Oom Herrie tot in sy kleintoontjie dat dit nou aanvaarbare Afrikaans is om ’n gesin ’n mens se “familie” te mag noem. Maar voor dit “aanvaarbaar” was, het baie mense al lustig “familie” ingespan wanneer hulle eintlik “gesin” bedoel.

Een van die sondaars was die plaaslike rugby-unie. Adverteer mos oor die radio ’n mens kan “jou hele familie saambring” en dan is die toegangsgeld saam net R25. Dan het Oom Herrie gewonder wat sal gebeur as die Wesselse of van die ander groot families eendag saamspan en omtrent die hele pawiljoen vir R25 kom volmaak (Oom Herrie praat darem nou van ’n hele klompie jare gelede).

Met een so ’n advertensie besluit Oom Herrie om iets daaraan te doen. Die jonge Herrie was nog ’n vrygesel en had g’n gesin van sy eie nie. Sy broer en suster bly in die Kaap, maar familie in die omgewing het hy heelwat van. So daag Oom Herrie met ’n fris familiekontingent by die rugby op – ’n paar neefs en niggies, ’n paar met wederhelftes, en ’n stuk of drie kleinneefs. So ’n vyftien sterk.

By die hek breek daar ’n soort pandemonium uit toe Oom Herrie die R25 vir die spannetjie wil opdok. Daar word met die tweerigtingradio na hoër gesag gegaan, en daar is dit net so ’n geskarrel. So met die stemme wat verhef word, begin van die ander manne in die tou ook agterkom die mense saam met wie hulle rugby toe gekom het is eintlik familie … soms weliswaar van Adam se kant af, maar bloedfamilie…

Uiteindelik sit Oom Herrie en sy spannetjie ná die R25 betaal is.

Destyds was dit nog ernstige sake om vuurwater in te smokkel, en om nie nog meer weerlig te trek nie, het die familie ooreengekom op g’n niks wat kan moeilikheid maak nie. Dis eintlik ’n heel stemmige familiesaamtrek.

Maar nie al die ander toeskouers het sulke voornemens nie. Die Pelser-broers wat so skuins agter Oom Herrie-hulle sit het ’n sakkie nartjies. Dit moet van Lemoenfontein se nartjies wees want hulle is amper so groot soos pomelo’s. Sommige is minder gerimpel as ander, en ’n mens kan maar weet daar is ruim brannas in daais ingespuit. En nog voor die wedstryd begin is die Pelsers ook al goed warm.

So ʼn ent ondertoe merk Oom Herrie nog bekendes. Ou dominee Bekker is afgetree, en is saam met sy twee seuns daar. Oom Herrie is baie erg oor daardie gesin.

Die wedstryd begin, en nie lank nie toe trek die eerste nartjie. As iemand opspring om ’n mooi beweging toe te juig is dit rede genoeg om hom onder nartjies te steek.

Die Pelsers gooi ook. Hulle het hul nartjies in twee hope gemaak nadat hulle elkeen eers goed uitgeruik het. Die een hopie is die gedokterdes en nie geskik vir gooi nie, die ander is skoon, en dus wat die Pelsers betref nutteloos vir enigiets anders as om iemand mee te pot.

Die sekuriteitsbeamptes het hul hande vol om die gooiers te verwyder.

So ʼn ruk ná rustyd slaan die ramp toe. So ’n entjie voor ds. Bekker vlieg iemand op, en dadelik reën die oranje missiele op hom neer. Een van die Pelser-broers het ook laat waai, maar in sy toestand is sy korrel erg windskeef. Daai groot nartjie tref die doodonskuldige dominee tussen die blaaie. Tersefdertyd bars die gooier in trane uit, en deur sy dronkverdriet beduie hy vir sy broer van die vreeslike ding wat hom oorgekom het – daai nartjie kom uit die hopie van gedokterte nartjies, en nou’s dit op. Op slag is die broer ook in trane. Hulle is ook te hartseer om hulle te verset toe sekuriteit hulle kom wegsleep, en op hul nartjies beslag lê.

Die arme dominee. In ’n ommesientjie hang daar ’n swaar brandewynreuk om die predikant, en almal wat hom ken weet hy sit nie sy mond aan sterk drank nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johann cb ·

Dankie Herman, dit was nou lekker lag so op die triestige dag. Ek gaan nou vir lekker nartjies soek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.