Oom Herrie se kerrie: Toustaan is g’n lekker nie

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Oom Herrie hou nie van toustaan nie. Eerstens dwing dit ’n mens om passief te staan terwyl ’n stywe deel van die res van ’n mens se lewe verbysnel. Tweedens het oom Herrie ’n bietjie engtevrees – vreemd dat oom Herrie geen probleem daarmee gehad het om haker te speel nie, maar so ’n beleefde stanery as die tou “vashaak”, maak oom Herrie benoud.

Boonop is die redes hoekom die tou vashaak gewoonlik omdat iemand dof tussen die ore is. By die bank, byvoorbeeld, omdat die een voor nie kan of wil verstaan hy kan meer as ’n sekere bedrag uit sy bankrekening onttrek nie. Of dat die geld wat pappa glo oorgeplaas het, nog nie op die stelsel wys nie.

Iets wat oom Herrie so kwaad maak dat sy bloedgroep op slag verander, is as iemand kom indruk. Maak nie saak of dit ’n buffel is wat sy grootte en krag gebruik om sonder gevolge in te druk nie, of die tantetjie wat voor gaan indruk, want “sy moet, want sy is bietjie haastig”.

En oom Herrie is veral brieskend as die onderneming waar die indrukkery plaasvind, niks daaraan doen nie, en dan nog sê dis omdat hulle besig is om hul kliëntebasis “meer verteenwoordigend” te maak. Ja, oom Herrie het al sy rekening by so ʼn bank gesluit doer in die tagtigerjare al.

En wie ken dit nie? Die tou wat tydsaam uit die kerk beweeg, kom tot stilstand. Blyk twee tantetjies het mekaar in die deur raakgeloop en nét daar vasgesteek en begin gesels. En almal is te ordentlik om iets daaraan te doen.

Een van die vreemdste verskynsels wat oom Herrie al raakgeloop het, was by ’n troue. Oom Herrie gaan nie graag na ’n onthaal waar die gaste in ’n tou moet gaan staan en self skep nie, maar vir hierdie troue het die uitnodiging aangedui die gaste word by hul tafels bedien. Maar met die onthaal word die gaste opgevorder om self te gaan skep. Oom Herrie staan dus reeds met ’n halwe donderweer in sy kop in die tou.

Maar toe sien en hoor hy die ongelooflike. ’n Ronde tantetjie het die tou al tot by die Kasteel in Kaapstad laat opdam. En die troue was in Bloemfontein. “Die dokter het gesê ek moet net klein porsies skep,” beduie sy. Dus, met die opskeplepel skep sy van elke gereg omtrent net ’n teelepel vol op ʼn slag van die gereg. “Net klein porsies,” beduie sy weer terwyl die skeplepel nog ’n teelepel vol van die gereg opdiep. En so al beduidende van die klein porsies wat die dokter voorgeskryf het, pak sy bietjie vir bietjie ’n bult van daai gereg. Dan beweeg sy na die volgende gereg, en weer kom daar net ’n teelepel vol op ’n slag met die opskeplepel uit die bak. En weer beduie sy van die dokter se opdrag. Sy mis geen gereg nie, en teen die tyd dat sy die laaste geskep het, staan haar bord sommer soos ʼn gebergte van al die “klein porsies”.

Om ’n enkele saak met die staat af te handel moes oom Herrie sewe keer in ’n tou staan. ’n Paar keer was dit omdat, toe oom Herrie voor in die tou kom, oom Herrie nie die ingevulde dokumente gehad het van die vorms wat die amptenare die vorige keer vir oom Herrie moes gegee het nie. Elke keer ’n ganse dag in sy maai in.

Oor indruk in toue moet oom Herrie liefs nie nog skryf nie, want dan raak die ink gal, en die hart begin onbedaarlik klop. Ja, Stellenbosch se bekende Slag van Andringastraat het volgens sommige bronne ook met ’n indrukkery in ’n tou begin.

Jare gelede het twee Sentraal-Amerikaanse landjies teen mekaar sokker gespeel. Die twee lande se toeskouers gaan aan’t bakleie, en dit loop toe op ’n oorlog tussen die twee lande uit – ’n oorlog wat ’n honderd dae duur. Oom Herrie sal glad nie verbaas wees as die moeilikheid ook reeds met ’n indrukkery in die toegangstoue begin het nie. Met ’n paar tequilas agter die blad sou oom Herrie seker ook begin appels swaai het as een van die vyand in die tou kom indruk.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.