Oom Herrie se kerrie: Trompie-speel in die kerkraad

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Oom Herrie het onlangs gehelp om sy pa, Pa-Jan, se besonderhede op die Afrikaanse Wikipedia gelaai te kry as deel van ʼn projek waarvoor Maroela Media groot lof verdien.

In ʼn sekere sin was dit baie moeilik. Dit wat op Wikipedia kom, moet sy professionele lewe uitbeeld. Vir oom Herrie was sy pa veel meer – die Mensch.

Pa-Jan het vandat die jonge Herrie kan onthou, met bloeddruk gesukkel en dit het ook sy lewe op ʼn jong ouderdom geëis. Pa-Jan het hom self gekondisioneer om nie gou kwaad te word nie, iets wat die jongeling soms die mure uitgedryf het om te sien hoe ander mense dit blatant uitbuit.

Maar soms, so het oom Herrie verneem, het Pa-Jan se lankmoedigheid oorgekook.

Pa was kerkraadslid en eendag, in ʼn lang kerkraadsvergadering, begin ʼn ander kerkraadslid naderhand met sy pen speel, wat hy voor sy mond hou. Die pen se knippie maak sulke trillende geluide, wat dan deur die oop mond geprojekteer word. Pa-Jan kan dit naderhand nie hou nie en vlieg op ʼn punt van orde op en verneem of dit dan in die haak is as ʼn kerkraadslid in die vergadering sit en trompie speel. (Ja, daar is regtig ʼn instrument soos ʼn trompie). Die kerkraad is dawerend aan die lag en die “trompiespeler” hoog die hoenders in.

As daar nou een ding was wat Pa-Jan nie was nie, was dit wintie. Hy het naamlik ʼn 1957-Volla gehad waarvan die armpies nog langs die kant uitgeskiet het. Tot voordat ʼn paar kwajongens die karretjie gerol het, het dit ook ʼn oopskuifdak gehad, wat daarna solied maar effens windskeef was.

Dis ʼn lang storie hoe dit gekom het dat Pa-Jan by geleentheid sy gesin in die Burgerspark, destyds Pretoria se voorste hotel, ingeboek het. Laatmiddag dreun die Vollatjie voor die deur tot stilstand en die inboekery verloop vlot. Maar toe die kar gebêre moet word, is daar moeilikheid. Die portier skop viervoet vas – hy ry gʼn met so ʼn ou krok nie. Pa, toe ʼn proffie, moet toe self sy raserige monstertjie gaan bêre.

(Tydens ses maande se navorsing in Nederland het Pa-Jan vir hom Ein Lelik Eendje aangeskaf.)

Die Volla se rat kon nie, terwyl die karretjie beweeg, in eerste rat kom nie. In ʼn stadium begin die rat vreeslik skree as dit stilstaande in eerste rat gesit word. Pa vind uit dit gaan ʼn astronomiese bedrag kos om die karretjie reg te maak. Maar toe kry die jonge Herrie ʼn rybewys en moet soms selfs die karretjie bestuur. Jonk en selfbewus, word die karretjie eers afgeskakel en die rat in eerste rat ingeskuif. Dit irriteer pa en hy gaan gee die karretjie by ʼn ander plek in om reg te maak. ʼn Hele 50 sent. Dit was die koppelaarkabel wat net bietjie stywer getrek moes word.

Toe, eendag, val die een uitlaatpyp af. Die Volla klink soos ʼn Porsche en die naweek kry ons jong goed nie genoeg daarmee rondgery nie. Tot KJA toe met die “Porsche.”

Die Maandagoggend, toe die herstelplek oopmaak, staan Pa-Jan met die Volla lankal voor die deur. Hy is nie ʼn wintie nie en gaan nie na ʼn wintie klink nie.

Pa-Jan was ʼn gebore Namakwalander en al storievertellende is hy ook as een oorlede. Dit bly vir oom Herrie ʼn groot eer dat hy van Pa se stories in ʼn e-boek opgeteken kon kry. Volgende jaar is dit reeds 40 jaar dat Pa-Jan op die vliegtuig VSA en Japan toe geklim het en ʼn ruk later in ʼn ashouer teruggekeer het. Dis twee keer so lank as wat oom Herrie die voorreg gehad het om Pa-Jan te ken.

Ma Johanna is nou al omtrent ʼn dekade in ʼn inrigting in Hermanus met demensie. Sy is met ons, maar ook nie. Op ʼn manier was Pa-Jan gelukkiger.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.