Vir klein Danie was dit ’n vreeslike skok toe hy uitvind sy ousus se troue bots met ’n rugbytoets. Omdat dié verhaal hom generies jaarliks in vele huishoudings afspeel, gaan Oom Herrie nie eens sê teen watter land die toets was nie – dit kon enige van die rugbyspelelende toetslande gewees het.
Wat sake vererger is dat Danie reeds deur sy skool ’n kaartjie vir die toets gekoop het, toe hy besef in plaas van op die pawiljoen sit, gaan hy blommeknapie of iets by die troue wees. Sies!
Desperaat nader hy Ousus om tog die troue te skuif. Hy kry summier ’n vreeslike skrobbering. Hoe moes hy dan nou weet daardie selfde versoek is al deur sy pa, die dominee en selfs die aanstaande bruidegom gerig? Ousus het onwrikbaar by die planne vir haar dag bly staan, en toe Danie ook nog kom mooi vra was haar senuwees oor dié ding nou al goed rafels. Toe op die troudatum besluit is was daar nie ’n piep van ’n beswaar nie.
Danie probeer plan B en skryf aan SARU om tog asseblief die toets te skuif. Hy verduidelik sy hele moeilikheid, en die kaartjie – die eerste toetskaartjie van sy lewe – wat hy nou teen wil en dank op die swartmark moes verkwansel. Die knapie se hart is stukkend. En hy oorweeg dit om weg te loop van die huis af, skryf hy.
Vir Danie werk sake toe mooi uit. Iemand by SARU het ’n sagte hart en vir die volgende toets op sy veld sal Danie en sy pa kaartjies vir die presidentslosie kry, maar die aanbod staan net solank hy nie van die huis af dros nie.
Toe die troue moet begin sit die mans nog bankvas in hul motors en luister op die motorradio’s. Toe die klok slaan, suiker die dominee haastig uit sy kar die kerk in. Die Springbokke is sterk op die aanval, en dit lyk of hulle enige oomblik kan druk. Maar die verdediging hou, en die horlosie stap aan. Ousus kom sleep haar pa aan die oor die kerk in om haar te gaan afgee, en in die verbygaan gee sy haar bruidegom ’n vuil kyk waar hy saam met sy pa aandagtig sit en luister.
Ousus en haar pa staan al voor in die kerk toe die bruidegom en strooijonker windverwaaid uit die konsistorie ʼn opwagting maak. Die verrigtinge begin, maar dis omtrent nog net vroue en dogters in die kerk – van die manne sit blykbaar nog buite in hul motors.
Ná die troue sak die manne weer behoorlik op hul motors toe. Die bruidegom kyk sy bruid hoopvol aan, maar die kyk wat hy terugkry sê hy gaan saam vir die fotonemery.
Met twintig minute van die toets oor daag die bruid en haar prosessie op en gaan die kerksaal binne. Kort hierna word ’n paar ekspedisies uitgestuur om die manne te gaan haal om bruilof te kom vier.
Die heildronke en toesprake is maar kort, want na elke toespraak verskaf die seremoniemeester die telling. As die Bokke punte gekry het, juig die manne.
En toe is die rugby verby. Onmiddellik is daar by die manne nie meer ’n teken van verdeelde aandag nie, en almal begin voluit aan die bruilof deelneem, en aandag aan die ander gaste gee.
Maar van die vroue is nie so inskiklik nie, en so weet ’n mens: In talle huise wag daar dié aand bedparlement.
Oom Herrie se Kerrie is die hoogtepunt van elke publikasie! Dankie Herman Toerien vir jou uitmuntende skryfwerk. ‘n Mens “sien” die toneel voor jou afspeel. Doe zo voort!
?.. en wie sit nou eintlik agter al die kamtige politiekery oor rassekwotas en minder wit spelers? … is vroue regtig slimmer as wat mans glo? … ek vra maar net, vroutjie ,.. wag nou ….