Oom Herrie se kerrie: Van triljoenêr tot brandarm in een dag

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Wat is die vinnigste manier vir ’n multi-triljoenêr om oornag brand-, brandarm te word? Nee, dis nie om die kroos vir ’n eendag-kriekettoets saam te neem en nie mooi beheer vir die aankoop van verversings oor die beursie te hou nie, maar ja, dit kan iemand in een dag liederlik terugsit. Oom Herrie moes al self ’n half-gedrinkte Coke konfiskeer om iets te hê om vir die karwag te gee, en dit was by ʼn rugbywedstryd.

Nee, maak van die geleentheid gebruik om jou berg Zimdollars vir Amerikaanse dollars te gaan omruil. Jare gelede het die land se president mos vreeslik geld laat druk om Zimbabwe se kop bo water te hou, en toe hiperinflasie (en ander goed) aangejaag. Nou ja, die week kan daardie waardelose geld vir dollars omgeruil word. Om een dollar te kry moet die omruiler 35 met nog 15 nulle Zimdollar daaragter, hoes. Die buitelandse media praat van kruiwaens inspan, maar oom Herrie wonder of ’n minibus-taxi genoeg eenhonderd triljoen dollarnote sal kan vervoer om met ’n Amerikaanse dollar uit die bank te stap.

Die Yanks, terloops, was al vroeg met hul geldeenheid gemetriseer. Toe die Engelse nog met hul trippense (tiekies) en ander eenhede gekarring het, was die Amerikaners se geldeenheid lankal gemetriseer. Maar wat die ander eenhede soos vir afstand en gewig betref, is die Amerikaners stram. ’n Onlangse peiling het getoon dat 64% van die Amerikaners nie wil metriseer nie.  Net 21% dink dis nodig. En ja, die Amerikaners se gekarring met myle en ponde het al ruimte-ongelukke veroorsaak, sodat NASA voet neergesit het en gesê het alles is nou (by NASA) gemetriseer.

Die volgende het nie tydens die poskantoorstaking in Suid-Afrika afgespeel nie. In die noorde van Frankryk is ’n brief pas besorg 138 jaar na dit tien kilometer daarvandaan gepos is. Die geadresseerde leef ongelukkig nie meer nie.

En nog langer terug. Wetenskaplikes meen mammoete kan teen aardverwarming ingespan word. Maar om mammoete in te span moet mammoete eers herleef. Altesaam drie sentrums werk aan die herlewing van mammoete. Sou nuwe mammoete weer die aarde bewandel, sal hulle egter hibrides wees met Indiese olifante, hul naaste lewende familie. Na duisende jare in die ys is daar nie meer lewende selle om te kloon nie, en daarom moet Indiese olifante se genoom gedokter word om dié van mammoete na te boots. Dié dierasies moet dan die Siberiese permafrost help bewei, en bome wat indring omstoot. Ys wat regstreeks aan die Arktiese lug blootgestel is, bly kouer, en so kan aardverwarming dalk ’n bietjie gekeer word.

En nog verder terug, sê wetenskaplikes, was Australië en Noord-Amerika vas aan mekaar. Hulle het nou bewyse van miljarde jare oud gekry dat dit die geval was.

Wonder of die Zimbabwe se president dit eerstehands beleef het en of hy toe al president was?

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.