Oom Herrie se kerrie: Vanslewe se stormagtige verkiesings

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Kyk, Oom Herrie weet met rasseverhoudinge wat so delikaat is, is die manier waarop onse mense destyds politiek bedryf het, iets van die verlede.

Veral die dae toe die Natte en Sappe so aanmekaar was. Ladybrand se stadsaal het pas die deftigste deure gekry, toe daar so ’n woeste geveg tussen die Sappe en Natte in die saal uitbreek, dat daai nuwe deure met kosyn en al uit die muur uit baklei is.

In die Noordweste het die Smelters se kinders pouses sokker teen die Gesuiwerdes se kinders gespeel.

Op Calvinia het ’n spreker ten gunste van republiekwording kom praat. Skaars is dit vraetyd of ’n klein mannetjie vlieg op en vra: “Ja, maar wie gaan ons beskerm!”

Die spreker beduie geduldig, maar toe hy klaar is vlieg die mannetjie weer op: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?”

Weer word beduie, en weer vra die mannetjie sy vraag. Maar toe hy weer ’n slag opvlieg om die vraag te vra het ’n groot tante wat reg agter hom sit genoeg hiervan: “Sit str*nt,” seg sy en druk hom op sy skouers terug op sy stoel, “ek sal jou beskerm.” Maar die tante se drif is bietjie groot en sy druk die mannetjie so hard terug dat die stoel ingee en hy plat op sy blaker op die saal se vloer beland.

Hy was hierna doodstil.

In daai einste Calvinia hou die Sappe en die Natte dieselfde aand vergadering, die Sappe in die stadsaal en die Natte in die skoolsaal. Die Natte se spreker is ʼn besonder droë spreker en dit voorspel moeilikheid.

Ook nie lank nie, vlieg die eerste een op en skree: “Ek stel voor ons los hierdie vergadering en gaan don&*r die Sappe!”

Met moeite word die vergadering onder beheer gebring, en die spreker teem voort.

Toe vlieg ’n volgende op: “Ag nee man, ek sê ons los hierdie vergadering en gaan don&*r die Sappe!”

Die spreker kap terug: “Wil jy my nou sê jy gaan één SAP reggedon*& kry?”

“Wat, ek was ʼn SAP en hoe het ek reggekom? Ek is reggedon&*!”

Einde van alle argumente.

En dan was daar die tyd van die Natte en die “Herztogiete” waar die vrot eiers en oorryp tamaties so na hartelus geslinger is.

Maar dis ʼn era wat verbygegaan het – soos koshuisontgroening op Potch.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Oom Herrie jy’s so reg, hulle gaan sukkel met die ont-rooi-ing van die parlement. Dis ook buite die werksopdrag van die grondwethof om te bepaal wie die eerste vrot tamatie gegooi het. Ons het darem ver gevorder sedert die ou dae.. so beskaafd deesdae…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.