Oom Herrie se kerrie: ‘Verontnooslik’ ons in Afrikaans?

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Oom Herrie se algemene reël dat sy se mense (die Afrikaanssprekendes) nie onnosel is nie, het pas ’n lelike knou weg. Trouens, oom Herrie is nie al een wat gedwing word om te herbesin nie.

Soos dit op die oog af lyk, het die hele diskoers begin toe ’n vrou in ’n kommentaar op ’n rubriek van dr. Piet Kopdoek erg gevit het met die Afrikaans “wat niemand verstaan nie”.

Dr. Piet moet nou seker al soos ’n renoster voel van al die kritiek wat hy oor sy politieke, ideologiese en godsdienstige stellings op die lyf loop, maar ’n kundige ontleding van die gewraakte rubriek het aan die lig gebring dat hy net een woord gebruik het wat dalk nie meer so alledaags in Afrikaans voorkom nie.

Toe gaan die sluise oop. Dit blyk dat baie mense wat gewoon suiwer Afrikaans praat en skryf, nou al erg keelvol is vir die kritiek wat hulle deurlopend van die “onnoseles” kry oor hul Afrikaans. Daar is selfs fout gesoek – SMS-taal, ouers wat nie meer met hul kinders praat nie, kinders wat nie meer iets anders lees as dit wat hulle op hul selfone te lese kry nie …

En dis nie net die freesluke spêling nie, dis sinne wat regtig klink asof ’n pikkie wat nog nie mooi leer skryf het nie, die pennevrug ingespan het.

En heel waarskynlik het hulle nogal heel indrukwekkende simbole in Afrikaans op skool gekry, wat natuurlik nie ’n wafferse kompliment vir hul onnies en nasieners is nie.

Van oom Herrie se blikbrein af het al ’n stroompie klagtes na die SAUK (oftewel SABC) gevlieg oor die inspan van “woorde” soos Argentiniërs, Algeriërs en so meer. Darem altyd ’n mooi dankie-briefie teruggekry, “dis reggestel” … tot dit op ’n dag weer deurglip.

Soms wonder oom Herrie net. Is dit reg om te sê hoofregter Mogoeng Mogoeng wil met pres. Jacob Zuma “vergader”? Nee, oom Herrie betwis nie, net betreur, dat Zuma president is.

Maar is “vergader” die regte woord, of is dit uit die Engelse teks se “meet” gemaak pas? Wil hy nie eintlik samesprekings voer nie? En hou hulle nie dan ’n vergadering nie?

Minstens een rubriekskrywer meen Afrikaans word meer deur sy sprekers bedreig as deur die regering. Dit moet nogal ’n kuns wees, maar die vraag kom alte veel by oom Herrie ook op.

Natuurlik moet Afrikaans nie stagneer nie, want dan gaan hy duik. Sedert die boekdrukkuns ontwikkel is, en onder meer die Bybel op groot skaal in verskillende tale beskikbaar geraak het, sien ons ’n effense briek-aandraai in die tempo waarteen tale verander en nuwe dialekte gevorm word. Plek-plek het dit die grondslag gevorm van die standaardtaal.

Maar noudat mense nie meer boeke (en die Bybel) so gereeld lees nie, en die ore vir die sosiale en dikwels elektroniese media uitleen, is die proses skynbaar weer aan die versnel. In Suid-Afrika word Afrikaans net te dikwels deur sy eie sprekers onder Engelse druk geplaas. Afrikaanse onderhoude met sportmanne en -vroue lewer ’n stroom woorde op soos “coach”, die “game” en annerlike goggas. Onderhoude met sekere kunstenaars is dikwels ’n vreeslike “pein” in die oor en nog ’n deel van die anatomie.

Koerante, wat tradisioneel ’n onmeetlik belangrike rol gespeel het om korrekte Afrikaans as leesstof op te dis, maak ’n mens net soms histeries as daar weer ’n berig oor ’n stukkie “seksie” wetgewing opdoem. Dit skreeu van ’n stukkie “verontnoosliking” in ’n hele “pyplyn” mense wat betaal word omdat hulle Afrikaans goed onder die knie het. En wanneer laas het ons gelees dat iemand ’n operasie ondergaan? Nee, deesdae “kry” mense operasies, of hulle “ontvang” operasies, so asof dit geskenke is!

Maar soms is daar ook die wonderlikste Afrikaanse taalgebruik. Die Herries woon naby die Willeboer, en die gevolg is dat heinings, stop- en voetgangertekens en selfs lamppale nie meer veilig is nie. Pas is ’n lamppaal skuins voor die Herries se huis heeltemal uit die aarde gery. Hy is behoorlik ontwortel. Hy het in die straat gaan speel en ’n heel nugter motorbestuurder so verwar dat hy die paal, wat intussen mooi op sy plek gaan staan het, met die aarde gelyk gemaak het. Nou is die hele straat se straatligte boonop “dood”, en die Willeboer se klante kan nog meer skade aanrig deur in die duister te wandel, ekskuus, te ry.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Piet Snot ·

Ai, Oom Herrie. Ek het al opgegee. Selfs ons geliefde gratis aanlynkoerant (hoop nie daai’s ook ‘n skrikwekkendheid nie!) maak partykeer maar lekker droog. Wys mens hul daarop in kommentaar, word dit meestal geïgnoreer (met lofwaardige uitsonderings).
Noe dink ek aan ‘n ander ding: kan Maroela nie ‘n bietjie (meer) http://www.beterafrikaans.co.za van Gerhard van Huyssteen bevorder nie? Uitstekende “taalspeletjies”; ek en my skoonma kompeteer gedurig om mekaar in hul toetse uit te stof.

Piet Snot ·

“Noe” = “Nou”.
Maar ek weet jy’t dit geweet.

Johann Badenhorst ·

Net om te se: alle tale (as dit lewendig is) verander met tyd. Ek kom agter dat die jonger geslag nie uitdrukkings soos “klopdisselboom” of “agter die kap van die byl” verstaan nie. Ek het n ruk gelede in die Spur op Piketberg gesit en luister na n groep jongmense. Ek kon net-net agterkom dat hulle een van hul vriende geterg het oor n nooientjie. Verder kon ek niks verstaan nie. Hulle het wel Afrikaans gebesig…..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.