Oom Herrie se kerrie: Verstandlose rugby?

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

As daar nou twee dinge is waarom oom Herrie wyd hou, is dit bek rek oor politiek en rugby. Deesdae met kwotas en dinge is sport en politiek mos maar half dieselfde ding, en as ’n man in Cheetahwêreld woon is ’n toe bek ook dikwels ’n heel bek. Al wat nog sport en politiek skei is dat die sportlui nog nie juis standbeelde van spelers begin oprig het wat ander weer wil omtrek nie.

Nietemin, die afgelope Saterdag volg oom Herrie die wedstryd tussen die Cheetahs teen die Brumbies so op die internet. By geleentheid merk die een kommentator op dat die Cheetahs se vleuel na ’n mooi beweging by die kantlyn uitgeboender is, in plaas van om binne toe te gebreek het. Ja, sug die ander kommentator, maar Suid-Afrikaanse agterspelers is nou nie bekend van vreeslik intelligent speel nie.

Kyk, oom Herrie wil nie meer iets sê nie, want jare lank kla oom Herrie oor die mamparraskoppe wat op drieë onder die eie pale uitloop. Maar oom Herrie kry sulke kyke, want spanne het deesdae ook ’n “skopstrategie”…

Maar kyk nou wat sê die buitelandse kommentators van ons spelers… en hul spanne wen gewoonlik…

En dan dink oom Herrie aan ’n wedstryd waarin Edrich Krantz, later Springbok en dokter, teen die kantlyn ’n hospitaalpaas gekry het. So op die middellyn rond. Rustig draf hy ’n paar treë reguit vorentoe, gaan staan omtrent doodstil en ’n horde kruisverdedigers snol voor hom op ’n streep oor die kantlyn, oor die atletiekbaan oor die fietsrybaan tot in die (vollerige) hoenderstellasie in. Edrich breek na binne, en toe daar weer kruisverdegiging kom, steek hy weer vas, breek na binne en die kruisverdediging gaan maak weer nartjies in die hoenderstellasie bymekaar.

ʼn Derde keer doen Edrich dit voor hy die bal langs die pale plant.

Nee kyk, daai ding van “in reguit lyne” hardloop, reg in die regstreekse verdediger vas, en dan te sê ʼn mens moet skop want in moderne rugby is die verdedigingspatrone so goed dit help nie om lyne te probeer breek nie…

Maar hoekom breek die Polinesiese spelers van Nieu-Seeland en Australië dan ons verdedigingslyne so na hartelus, wil ’n mens vra na die naweek waarin die Crusaders die Haaie in die Haaitenk ’n rugbyles en ’n paar ander lesse geleer het? Hulle speel natuurlik nie regverdig nie – hulle hol nie in ons spelers vas nie, maar swenk en soek gapings. Of halwe gapings soos ons kommentators deesdae sê. En kom ’n verdediger by, word hy afgeskud of gerooikaart omdat hy die opponent om die nek beetkry en sweepslag.

Sien, dis hoekom oom Herrie nie oor “moderne rugby” moet skryf nie. Veel eerder oor iets soos die rugbydag op Fauresmith waar die mannetjies kaalvoet nog soos hul helde Mannetjies Roux, Jannie Barnard en Jannie Engelbrecht speel. En Frik. Al moet hulle maar by hul pa’s en oupas en meneer hoor hoe daai manne nou eintlik die skare in vervoering kon laat raak. En pa met sy swikknie in die voortuin moet probeer demonstreer hoe ’n man nou eintlik ʼn gaping vat. Of soos PH Nortjé oor homself skryf, toe hy weer hoor vertel sy kinders hy het nooit Springbok kon word nie want altwee sy kakebene is uitgehaal.

Of oom Herrie moet gaan kyk na die slag wat die spesiale skool Martie du Plessis ’n spannetjie bymekaar gemaak het, wat deur ʼn juffrou afgerig is. Die dag toe hulle opponente pak, rek oom Herrie ’n dyspier toe oom Herrie met ’n kamera die vleueltjie vir sy droomdrie na die doellyn probeer klop het.

Maar wag, netnou sê oom Herrie die rugby wat die buurt se kinders in die voortuin gespeel het, is ook meer aanskoulik (en vernuftig) as moderne Springbokrugby.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.