Van kleins af het Jannetjie Vlooi se ouers gereeld by die opstal kom spog met die klein mannetjie se skoolrapporte.
Meester Rooi het hard gewerk Aan goeie uitslae vir die plaasskool, maar met fetale alkoholsindroom ʼn probleem in die omgewing, was daar ʼn klompie kleingoed wat maar gesukkel het, maak nie saak hoe hard hulle probeer het nie.
Maar Jannetjie Vlooi was ʼn droom. As hy die dag nie volpunte in ʼn vraestel gekry het nie, was dit omdat dinge regtig skeefgeloop het – soos die kers wat opgebrand was voordat al die leerwerk klaar was.
Die boer, oom Pietman Greeff en sy vrou, tant Marie, het koppe bymekaar gesit en besluit hulle gaan alles in die stryd werp om Jannetjie so ver as moontlik te laat studeer.
Intussen het Agrilek gesorg dat daar krag by die werkershuise kom en Jannetjie kon studeer tot so laat as wat hy wou.
En toe hy in graad agt die plaasskool vaarwel moes toeroep, het oom Pietman en tant Marie bygedra sodat hy na die groot skool kon gaan. Hier het Jannetjie ook uitgeblink en boonop in ʼn bedrewe rugbyspeler ontpop – as senter.
“Met ʼn van soos Vlooi sou mens verwag hy moet skrumskakel speel,” giggel tant Marie.
En toe is dit universiteit toe. Medies, met ʼn handvol merietebeurse.
Maar toe begin dinge lol ook. Jannetjie het leepogies gekry vir Charledene-Rose Seekoe op die buurplaas en die gevoel was wederkerig.
Maar dinge word ernstig en met dié dat Jannetjie Medies swot, begin die toekomstige Mevrou Dokter neusoptrekkeig raak vir die van, Vlooi. Hoe gaan dr. Vlooi nou ook klink? En sy ril behoorlik by die gedagte dat sy mev. dr. Charledene-Rose Vlooi moet wees.
Naderhand het sy vir Jannetjie ʼn gat in die kop gepraat. Hy sien darem self die nodigheid van ʼn nuwe van in.
Maar tog het die storie iets in Jannetjie se gemoed aan die gang gesit. Terwyl hy, wat Jannetjie is, met ʼn lekker hart dink aan sy grootwordjare – die draadkarre, die kaal voetspore in die ryp op pad skool toe, sy ma se stomende pap, sien Charledene-Rose klaarblyklik daarop neer.
Jannetjie gee bes en is vort om sy van te loop verander, maar wil gʼn niks die sluier lig nie. Charledene-Rose se gedagtes sit op loop deur stringe eksotiese vanne, meestal Franse vanne wat nie hier te lande te hore is nie.
Toe kom Jannetjie om sy groot nuus oor sy nuwe van mee te deel. Charledeen-Rose pluk die deur oop nog voor hy kon klop. “En wat is dit toe?” vra sy sonder om te groet.
“Bosluis,” antwoord hy. “Ek het gedink dit moet darem groter as…”
Maar toe praat hy al met ʼn toe deur, want Charledene-Rose het die deur in sy gesig toegeklap.
Natuurlik het Jannetjie kaf gepraat, maar hy loop met ʼn verligte gemoed terug na sy ouerhuis. Hy is trots op sy herkoms en sy ouers wat hulle behoorlik afgesloof het om sy geleerdheid te kry. En hy is nie die enigste kind nie…
ʼn Jaar later kry Jannetjie Vlooi Greeff sy graad met lof.
Jannetjie se ouers was daar en ook oom Pietman en tannie Marie Greeff, asook Meester Rooi. Hul harte het geswel van trots. Maar na die plegtigheid was Mietjie Dragoender die eerste om hom om die hals te val. Aan haar vinger pryk Jannetjie se verloofring. “My Vlooi, my Vlooi,” koer sy sag.
‘n Jubel-storie, wat ek vreeslik geniet het. Dankie hiervoor.
Haha! Die mannetjie het sy verstand gebruik tot aan die einde!!! Skitterende storie Herman. Met ‘n paar klappe ook uitgedeel so tussendeur in hierdie PC tyd van “equality”…:-)