Oom Herrie se kerrie: Voet in die hoek kerk toe

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Al ooit opgelet hoe kerkgangers Sondae by jou ryding verbyblits op pad kerk toe? Oom Herrie ry Sondagoggende twee rigtings – eers noord om ’n gemeente se nuusbriewe te gaan afgee, en dan suid na die Herries se eie kerk toe.

En, lyk dit, maak nie saak in watter rigting na die uithoeke van die aarde gery word nie, daar word op groot skaal kerk toe gejaag. ’n Mens sou sê die kerk plaas die een of ander wrede tug op laatkommers.

Intussen preek die dominees vir bottoe ore oor gehoorsaamheid, en dat ’n mens, sy esel, sy kameel en sy Mercedes nie Sondae mag jaag en ’n gevaar vir ander padgebruikers mag wees nie. Want langs die paaie skuil hulle wat hul strikke span om die ellendeling te vang.

Maar wat maak dat ’n doodgewone, wetsgehoorsame burger juis Sondae agter die stuur inskuif en van sy voertuig ’n missiel, ’n moordtuig maak?

Al opgelet dat so ’n voortsnellende kerkganger se kar gewoonlik taamlik baie gesinslede bevat? En hierin lê die geheim dikwels opgesluit. Daai dat almal betyds moet klaar wees.

Vyf minute voor lanseertyd besef ouboet, wat lankal klaar was en Rapport op sy stuitjie sit en lees het, hy moet vir ’n ringsitting gaan. Twee sussies trippel op en af in die gang voor die badkamer, want hulle moet nog tande borsel en klaar tittewyt. Die inpak van die skottelgoedwasmasjien neem net ’n aks langer, want kleinboet het “gou” iets op TV klaar gekyk en toe eers ná die ander klaar geëet.

Nou skree die Siamees ook dat hy NOU sy kos wil kry.

Maar dan is almal reg. Boelie die brak gaan kruip onder ’n bank in, en moet uitgesleep word sodat die alarm gestel en die huis gesluit kan word.

“Ma, ek het nie kollekte nie.” ’n Blitsopname toon dat nie een van die kroos kollekte het nie, en ’n ekspedisie moet gaan beursies omdop, Boelie weer by die huis uitsleep, die alarm stel en vir oulaas toesluit.

Walms frustrasiewolke borrel by pa se ore uit, en die kar trek met ’n spoed weg.

Dan kom die huilstemmetjie: “Ma, ek ken nog nie my teksvers vir die Sondagskool se huiswerk nie.” Ma wil nog in die ry help, maar die huilstemmetjie vervat … “My boekie is by die huis.”

Pa is horende doof. Hy ry… ver oor die spoed.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco du Toit ·

Mmm, die opmerking is baie waar. Vir sekere mense beteken die tyd wat die kerk begin die tyd om te begin tittewyt!

Bloues ·

Mooi raakgevat oom Herrie. En dan is die diens al halfpad voor pa begin afblaas en luister

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.