Oom Herrie se kerrie: Vreugde van die vrugtefees en pakkies liefde

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Die laaste paar somers, en veral vanjaar, was maar baie droog. Een van die gevolge is dat die Herries nie ’n enkele vy van hul twee vyebome sal kan oes nie. ’n Vy is regtig sommer nog ver van ryp, dan kom die voëls hom al by.

Vroeër het die Herries drie vyebome gehad, maar toe kom daar ’n witstinkhout teenaan op. Mev. Herrie vra die tuinmannetjie om die indringerboom uit te haal, en hy haal toe die vyeboom uit.

Hierdie somer het die Herries maar baie skraps vrugte geoes. Behalwe die vrugte waarmee die honger voëls vort is, het oom Herrie ná sy onderskeie kankerdiagnoses ook nie aan gif gevat nie. Net ’n paar appelkose geoes voor die vrugtevlieë die res tot niet het. Nie ’n enkele perske nie, en selfs die druiwe het mooi gelyk tot kort voor dit ryp is – ’n dag later sit die verskrompelde druiwedoppe op die stingels.

Oom Herrie kan nie glo hoe maklik dit was in die pioniersdae van die woongebied nie. Toe was gif omtrent nie nodig nie, en is groot oeste afgehaal. Oom Herrie onthou nog hoe hy eendag met ’n paar skottels perskes na die kinderhuis op Reddersburg deurgery het.

Deesdae moet ’n mens so gif spuit dat dit eintlik ’n naarheid is net om die skimmels en vrugtevlieë weg te hou, maar die voëls is ’n ander ding. In so ’n droogte soos die afgelope somer is ’n man se ryp vrugte omtrent al kos, en ’n man se hart bloei. Ten minste beloon hulle ’n mens met voëlgesang in die Herries se boomryke erf.

Maar ’n vrugefees had die Herries darem. Eendag bring een van mev. Herrie se kliënte ’n, wat hy ’n p*spampoen noem, hier aan. Die lekkerste waatlemoen wat oom Herrie in ’n lang tyd geëet het, lekker koud gemaak in die yskas. Maar met oom Herrie se prostaatkanker en die bestraling het oom Herrie mooi besef waar die waatlemoen se bynaam vandaan kom. Dit was kamer verlaat al om die kwartier tot halfuur.

Wat oom Herrie aan die vrugtefeeste van ouds, formeel en informeel, laat dink. Gewoonlik waatlemoen, maar ander vrugte het ook gedeug. Oom Herrie onthou nog goed hoe boos Pa-Jan jare gelede was toe ’n buurseun vir die eerste keer die vreugde van granaateet leer ken het, sonder om te weet van die swart vlekke wat die lekker sous maak. Pa se maroen Volla was binnekant amper pikswart.

’n Besoeker uit Engeland het die yskoue turksvye so geniet dat ons afsit boord toe om nog te gaan pluk, die Engelsman saam. Ons pluk en pluk, en hy vat. Later kom ons agter hoekom hy so baie kon vat. Toe sy mandjie vol was, het hy dit voor by sy hemp begin ingooi. Rooinek se maai, sy bors en pens was baie rooier (en jeukeriger). Die volgende jaar had die Meksikaanse pes daai turksvye ook swart tot op die grond af laat verrot.

Die komende somer, so hoop oom Herrie, sal dit weer ’n vrugtefees op die Herries se erf wees – vir mens en voël, maar die vrugtevlieë word beslis nie genooi nie.

Ouma Joey, in lewe van Pieringkop buite Slabberts, het jaar vir jaar ’n mooi oes afgehaal. Perskes, vye en kwepers is in die heerlikste droë rolletjies omtower, en in pakkies opgemaak. En omdat ouma nie meer self bestuur het nie, het sy haar oë en ore oopgehou vir moontlike geleenthede vir hierdie pakkies liefde van haar na elke uithoek van die land. Of dit nou kleinkinders was, of ou vriende wat verhuis het, of predikantsgesinne wat Slabberts die een of ander tyd bedien het, daai pakkies het geleidelik hul rygeleenthede gekry. En wanneer hulle almal versend was, het ouma Joey al weer aan haar volgende besending pakkies liefde gewerk. Pakkies waarvan ouma weens ’n slukprobleem van haar jong dae af self nie kon geniet nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae