Oom Herrie se kerrie: Vyfster vir vlakvark en skilpad

Oom-Herrie-se-Kerrie

Argieffoto.

Twee jong latte besluit om saam te ry om ʼn streekkongres van Agri Limpopo op die Springbokvlakte te gaan bywoon. Hulle is die joernalis Piet-Piet en die akademikus Jan. Jan is een van die sprekers.

Anderkant Bela-Bela is dit ʼn smallerige pad na die bestemming, Skutters. Dis ʼn “dorpie” met ʼn hotel, koöperasie en polisiestasie. Die wêreld is vol wild.

Nog so aan die lekker gesels met die ryery is daar skielik ʼn harde slag teen die kar. Jan hou stil en die twee stel ondersoek in. Dis toe ʼn halfwas vlakvark wat in die slag gebly het.

Die twee dink net ʼn oomblik, toe besluit hulle om die dooie vlakvark op te laai. By so ʼn kongres is daar altyd geleentheid vir sports.

Jan is ʼn groterige kêrel en hy laai amper die tingerige Piet-Piet saam met die vlakvark in die kattebak.

Piet-Piet het intussen ʼn groterige skilpad gekry wat op die punt was om die pad oor te steek. Dié word ook ingelaai.

By Skutters word daar die aand lekker gekuier so op die vooraand van die kongres die volgende dag. Piet-Piet en Jan het die “hanniemoenswiet” gekry. Die kamer verskil gʼn niks van die ander kamers nie, behalwe dat die hoteleienaar iewers ʼn tweedehandse hemelbed raakgeloop het en nadat hy dit opgeknap het, in ʼn kamer gesit het wat toe die “hanniemoenswiet” geword het. Naas die hemelbed is daar ook ʼn enkelbedjie.

In die kroeg sien Piet-Piet en Jan gou hul bure gaan laatnag kuier. Dis drie jong Bosveldboere en hulle kuier met mening.

Piet-Piet en Jan verskoon hulle om te gaan inkruip. Met hul geluk het die drie Bosveldboere nie hul kamerdeur gesluit nie en hulle smokkel die vlakvark en skilpad in. Die vlakvark word mooi in een van die Bosvelders se beddens laat lê en die komberse is mooi opgetrek. Die wriemelende skilpad word in ʼn ander bed onder die kooigoed ingedruk.

Piet-Piet en Jan maak nie ʼn oog toe soos hulle wag vir die Bosvelders om kamer toe te kom nie. So skuins na middernag is dit toe so. Dis ʼn aardige en onstigtelike geswets uit die kamer, maar nog niks teen die geswets toe een van die Bosvelders die komberse van die kriewelende bultjie onder sy beddegoed aftrek nie. Die nuwe stortvloed swetse kom toe hy die skilpad laggend optel en dié sy kooigoed van bo tot onder bepiepie.

Die drietal kom agter hul bure sit in die gang met hul ore vasgesuig teen die deur van die Bosvelders en net daar besluit hulle op weerwraak. Karel, die voorste vloeker, word “afgevaardig” om in die kamer te bly en gereeld te swets asof die ander twee by hom is. Sy maters glip balkonlangs na die bure se kamer. Hulle werk vinnig.

Die vlakvark word op die hemelbed se “dak” gelaai sodat dit oor die kant op die slaper afkyk. Die nat beddegoed a-la-skilpad word met dié van Piet-Piet omgeruil, maar die skilpad self word op die werf losgelaat. Ook die hemelbed se beddegoed word soos in die weermag ge-“gypo.”

Kort voor lank is hulle terug is die kamer en dis toe dat Fanie hardop sê. “Raait manne, kom ons gaan bl*ks&m die Kypies langsaan.”

Piet-Piet en Jan makeer bitter gou by hul bure se deur en woerts in hul eie kamer in en maak vir die kooigoed. Jan duik onder die hemelbed se kooigoed in, maar sy lang bene steek vreemd knieë langs die ore vas. Hy skop-skop om sy bene reguit te kry en daar gaan hulle met ʼn skeurgeluid van die laken dwarsdeur die omgevoude linne.

Piet-Piet gaan sommer aan die sanik toe hy hom skielik in die onwelriekende nat beddegoed bevind.

Die hotelbaas en sy vrou moet kom help. Eers is die hotelbaas erg omgesukkel vir die drie Bosvelders, maar toe hy van die provokasie verneem, lag hy hartlik.

Uiteindelik is daar rus en vrede (en skoon lakens en basse) in die hotel. Die volgende oggend, toe die eerste sonstrale deur die gordyne begin loer, word Jan wakker en forseer sy oë oop. Dis toe hy sien hoe die vlakvark ondeund vir hom daar van bo-af loer. Jan kreun net en draai op sy sy om nog ʼn rukkie skuins te kan lê.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.